STILBAAI NUUS - Die 77-jarige Theunis Hofmeyr van Ellenrust-leefstyloord in Stilbaai het Saterdag, 24 Januarie, sy 250ste parkrun voltooi.
By die eindpunt het 'n groep vriende van Ellenrust hom ingewag met baniere en gelukwense. Hy het ook 'n koek met 'n "250" daarop van die Stilbaai-Wes-parkrun ontvang.
Volgens hom neem hy reeds 2015 aan die parkrun deel en hierdie was sy 46ste wedloop in Stilbaai.
Katja Nothnagel van Stilbaai het ook nie op haar laat wag nie en haar 200ste parkrun in styl voltooi. Sy was die eerste vrou oor die eindstreep en algeheel tweede.
Katja is ook 'n getroue vrywilliger en help gewoonlik die ander vrywilligers nadat sy klaar gehardloop het. Sy neem sedert 2022 in Stilbaai deel, en hierdie was haar 95ste parkrun in Stilbaai.
Die ou strydros, Clifton Donald, het Saterdag sy 150ste parkrun voltooi, waarvan 144 in Stilbaai was. Jy kry Clifton gewoonlik voor 'n wedloop op pad Morrispunt toe vir 'n warmmaakdraffie.
Uit Saterdag se 166 deelnemers het Jo-Marie van Zyl ook uitgestaan met haar 314de parkrun waarvan vier in Stilbaai was.
So is daar heelwat ander mooi stories - soos persoonlike beste tye en deelnemers met meer as 200 parkruns op hul kerfstok.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’