STILBAAI NUUS - Die Stilbaai U3A Voëlgroep is tans besig met 'n projek om die voëlskuiling op te gradeer om dit meer voëlkyk- en fotografie-vriendelik te maak.
Die projek word in samewerking met die Hessequa Munisipaliteit, Stilbaai Toerisme, Cape Nature, Stilbaai U3A, Stilbaai Bewaringstrust en die U3A Fotografie groep onderneem.
'n Omvattende ontwikkelingsplan is opgestel en van die korttermyn prioriteite is die plasing van boomstompe vir die voëls, opgradering van die voëlskuiling, voëlfoto's, kinderkuns en aanbring van ander inligtingstukke.
AVI-Toerisme, van BirdlifeSA se TV-produksiespan besoek die Roland Rudd skuiling op 20 Februarie 2024 as deel van hulle Garden Route en Klein Karoo bekendstellingsinisiatief en soveel as moontlik van bogenoemde prioriteite moet verkieslik teen daardie tyd afgehandel wees.
So 'n projek kos natuurlik geld dus sal donasies en borgskappe hierdie droom baie vinnig bewaarheid.
Indien enigiemand op enige manier kan help sal dit waardeer word indien jy Dirk Bosman skakel by 082 771 2979 of vir Krysia Stenvert by 083 287 5227.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’