EIENDOMSNUUS - Een van die mees kontroversiële onderwerpe van bespreking deesdae, is korttermynverhuring in deeltitelskemas– hetsy die verskaffing van vakansieverblyf of sogenaamde AirBnB.
Aan die een kant is daar die eienaars wie van mening is dat hulle geregtig is om die vrugte van hulle beleggings te pluk en aan die ander kant het jy verontriefte eienaars wat ook gewoonlik permanente inwoners in 'n skema is, en met die daagliks probleme van korttermynhuurders opgeskeep moet sit.
Een van die grootste bekommernisse in skemas is die sekuriteitsrisiko wat geskep word deur die aanhoudende invloei van vreemde mense in die skema.
Ander nadele van korttermynverhuring is geraas, onderbroke partytjies, ongemagtigde parkering van voertuie asook addisionele druk op die basiese geriewe soos die water- en riool verbruik.
Hierdie dilemma veroorsaak dat trustees van regspersone en die eienaars gedurig koppe stamp, en die onbesliste uitsprake van die Community Schemes Ombud Services (CSOS) dra geensins by tot die probleem nie. Inteendeel, CSOS skep net onsekerheid oor die regte en beperkinge van beide partye.
Aangesien daar nog nie 'n uitspraak deur die hooggeregshof gelewer is wat as verwysing kan dien nie, moet eienaars wat korttermynverhuring oorweeg, hulle maar beroep op die reëls van die skema. Indien 'n skema bestuur word deur die voorgeskrewe reëls en regulasies, sal daar nie beperkings wees nie.
'n Deeltitelskema vorm deel van 'n gemeenskapskema omgewing waar daar van inwoners verwag om in harmonie saam te leef en respek en bedagsaamheid teenoor mede-eienaars te betoon. Eienaars wat korttermynverhuring oorweeg, moet die nodige maatreëls tref om permanente inwoners nie te verontrief nie.
Hier volg 'n paar pro-aktiewe riglyne vir eienaars met verwysing na korttermynverhuring:
- Lees en verstaan die reëls van u skema;
- Gehoorsaam die reëls – veral as korttermynverhuring uitdruklik verbied word;
- Bespreek u voorneme om u eiendom op korttermyn uit te verhuur met die trustees en u bure, en slaan ag op hulle menings en bekommernisse;
- Maak seker dat die huurders/gaste 'n afskrif van die reëls het, en dat hulle bewus is van enige beperkinge;
- Stel 'n agent aan met 'n goeie reputasie en wat ervaring het van korttermynverhuring;
- Vra die tipe huur wat die regte kaliber huurder sal lok wat jy graag in jou eiendom wil toelaat;
- Speel 'n aktiewe rol in die bestuur van jou eiendom en doen deeglike agtergrondondersoeke op voornemende huurders.
Indien u graag u mening wil lug rondom korttermynverhuring, is u welkom om 'n e-pos aan my te stuur. Daar is tans 'n uitspraak hangend rondom korttermynverhuring (The Body Corporate of The Paddock v SC Nicholl) nadat die eienaar geappelleer het teen die uitspraak van die regter. Indien u 'n afskrif van die hofsaak sowel as die appèl- aansoek wil lees, stuur vir my 'n epos.
Stuur 'n e-pos na krohnkarin@gmail.com indien u vrae rakende u skema het – insluitende deeltitels. huiseienaarsvereniging of aftreeoorde.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'