Update
NASIONALE NUUS - Die onlangse konstitusionele hofbeslissing in Jordaan and others vs Tshwane Metropolitan Municipality and others and related matters (Tuhf Limited and others as amici curiae) 2017 (11) BCLR 1370 (CC) bring verseker groot verligting vir voornemende kopers van onroerende eiendom.
Dit bring ook regsekerheid in 'n area waar kopers in die verlede geen voet gelaat is om op te staan nie, anders as om gedweë in te val by munisipaliteite se (wan-)interpretasie van artikel 118(3) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (Nr. 32 van 2000) ('die Wet').
Die artikel, in 'n neutedop bepaal dat bedrae verskuldig ten aansien van munisipale dienste, bybetalings, heffings en belastings 'n heffing op eiendom daarstel ten aansien waarvan die verskuldigde bedrag voorkeur geniet bo enige verband geregistreer oor die eiendom.
Op grond hiervan het munisipaliteite nuwe eienaars/kopers aanspreeklik gehou vir historiese skulde van die verkrygde eiendom, die gevolge waarvan vanselfsprekend deurslaggewend was en ingesluit het eksekusieverkopings van die betrokke eiendom ten einde die skuld te delg of 'n munisipaliteit se weiering om dienste te verskaf aan die koper alvorens die uitstaande skuld nie gedelg is nie.
Verbandhouers is eweneens deur hierdie benadering benadeel aangesien laasgenoemde geen beskerming geniet het in die geval van 'n eksekusieverkoping soos voormeld nie.
Die hooggeregshof (Gauteng-afdeling, Pretoria) het aanvanklik bevind dat artikel 118(3) ongrondwetlik is, maar die konstitusionele hof het nie hierdie uitspraak van ongrondwetlikheid bekragtig nie (soos 'n bevinding van ongrondwetlikheid vereis), maar eerder deur middel van behoorlike interpretasie en 'n logiese uiteensetting van die geskiedenis en grondwetlike invloed op die bepaling, tot die gevolgtrekking gekom dat die heffing deur die wet opgelê nie oordrag van die eiendom oorleef nie.
Geen verklaring van ongrondwetlikheid (of bekragtiging daarvan) was dus noodsaaklik nie aangesien die bepaling behoorlik en redelik geïnterpreteer kan word sonder om inbreek te maak op die Grondwet.
Die uitkoms is dat 'n munisipaliteit slegs kan steun op die bepalings van artikel 118(3) vóór oordrag van eiendom en slegs teen die huidige eienaar (wie verantwoordelik is vir die opgehoopte skuld) kan optree in die verband.
'n Munisipaliteit mag dus nie weier om dienste te verskaf aan die nuwe eienaar op grond van sodanige historiese skuld nie.
Die praktiese implikasie hiervan is dat munisipaliteite van die meganismes soos voorsien in die wet gebruik moet maak vóór oordrag van eiendom ten einde skuld effektief in te vorder.
Indien 'n munisipaliteit nie betyds van die geleentheid gebruik maak nie, kan dit nie later ná oordrag van die eiendom teen die nuwe eienaar optree nie.
Die vraag ontstaan dan hoe 'n munisipaliteit nou moet te werk gaan ten einde binne die bogemelde uitleg van die wet te bly en nie slegter daaraan toe te wees nie, en daarenteen, wat blyk die remedies te wees van kopers wat voorheen verkeerdelik aanspreeklik gehou is vir skulde van die vorige eienaar.
Die uitspraak het dus direkte betrekking op sowel huidige en vorige oordragte van eiendom.
Kontak jou prokureur vir bystand met die verkoop of aankoop van eiendom en gepaardgaande regsaspekte.
Inligting verskaf deur Elizna Lotz.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'