EIENDOM NUUS - Alhoewel 'n deeltitelskema of 'n HEV nie 'n besigheid in die ware sin van die woord is nie, moet 'n gemeenskapskema met die basiese sakebeginsels in plek bestuur word. Ek wil graag die volgende basiese finansiële beginsels bespreek:
Die begroting
Die Deeltitelbestuurswet maak dit baie duidelik dat die trustees verantwoordelik is vir die opstel van 'n begroting wat die inkomste en uitgawes van die regspersoon weerspieël.
'n Tekort in die begroting lei gewoonlik tot onderhoud en herstelwerk wat agterweë gelaat word, en diensverskaffers wat laat of nooit betaal word nie. Aan die anderkant lei 'n oordrewe begroting tot heffings wat te hoog is, ongelukkige eienaars en 'n negatiewe impak op die bemarking van eiendomme in die skema.
Invordering van heffings en agterstallige heffings
'n Regspersoon kan nie voortbestaan as die lede nie hulle heffings betaal nie. 'n Skema wat goed bestuur word sal 'n invorderingsplan in werking hê wat nougeset deur die trustees en bestuursagent gevolg word. Eienaars moet deeglik bewus gemaak word van die rente wat betaalbaar is op agterstallige heffings asook die regsimplikasies indien 'n eienaar nie heffings betaal nie.
Spaar vir die toekoms
Sedert Oktober 2016 het wetgewing rondom deeltitelbestuur verander, en skemas is sedertdien verplig om geld te spaar vir toekomstige uitgawes deur 'n 10 jaar onderhoud, herstel en vervangingsplan op te stel. 'n Skema wat jaarliks die 10 jaar onderhoudsplan hersien en aanpas kan fondse bymekaarmaak oor 'n langer periode en sodoende die finansiële implikasies op sy lede verminder.
Spandeer die regspersoon se geld
Die regspersoon is nie daarop uit om 'n wins te maak nie, en die trustees is verantwoordelik vir die onderhoud van die geboue en gemeenskaplike eiendom met die heffings wat ingesamel word vir hierdie doel. 'n Aanduiding dat 'n skema goed bestuur word, is wanneer die trustees gereelde geld spandeer op onderhoud van die gemeenskaplike eiendom. Dit is ook 'n aanduiding hoe ernstig die trustees hulle pligte opneem ten opsigte van die skema en sy lede.
Kort- en langtermynbeplanning
Trustees moet kort- en langtermynbeplanning doen veral rondom onderhoudverwante items. Items wat groot kapitale beleggings verg soos byvoorbeeld die verf van die geboue, vervanging van die dak of die hysbak ens. word in die reserwefondsbegroting geplaas en ook vervat in die 10 jaar onderhoudsplan omdat die kostes baie hoog is en nie gedek kan word deur die maandelikse heffings nie. Kleiner instandhoudingswerk byvoorbeeld vervanging van gloeilampe moet deel uitmaak van die administratiewe begroting.
Ten slotte, die belangrikheid van goeie finansiële beplanning kan nooit onderskat word nie. Die finansiële welstand van die skema moet gereeld vergelyk word met die goedgekeurde begroting en die werklike uitgawes wat aangegaan is om te verseker dat die skema se fondse korrek bestuur word.
Stuur 'n e-pos na krohnkarin@gmail.com indien u vrae rakende u skema het – insluitende deeltitels, huiseienaarsvereniging of aftreeoorde.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'