HEIDELBERG NUUS - Die Demokratiese Alliansie (DA) het Maandagaand 10 Desember met hul 'Let's Talk'-veldtog op dié dorp afgeskop.
Volgens Anton Bredell, provinsiale minister van plaaslike regering, en Grant Riddles, uitvoerende burgemeester, is die veldtog grootliks daarop gemik om die kanale van kommunikasie tussen hulself en hul ondersteuners te verbeter, asook om alle onduidelikhede aangaande hul beleid uit die weg te ruim.
Volgens Bredell is armoede die grootste uitdaging in die Wes-Kaap. Hy het gesê dat as gevolg van die toeneem van inwoners vanaf ander provinsies, die waterbronne groot risiko loop om op te droog en dat dit belangrik is dat die waterverbruik verminder word. Hy het 'n breë oorsig oor hul werksaamhede tot dusver gegee, maar genoem dat dit nie genoegsaam is om agteroor te sit nie. Hy het ook na die brande van die afgelope tyd verwys en daarop gewys dat die provinsie se rampbestuur voltallig daarby betrokke was. "Die afgelope vier jaar was daar geen lewensverliese as gevolg van brande nie. Die rookalarms is van groot nut om brandrampe te voorkom."
Gepols oor sy indrukke oor Patricia de Lille se Good Party, het Bredell gesê dat hy baie respek vir haar het, maar hy glo dat haar nuwe party nie veel skade aan die DA sal berokken nie.
Tydens vraetyd het Ben Dell uitgelig dat die grondvlak en nasionale beleid verskil en het sy ontevredenheid daarmee uitgespreek. Hieroor het Bredell genoem dat die media 'n groot rol speel aan wie hulle goeie publisiteit gee. Hy het bygevoeg dat hulle baie hofsake op tegniese punte verloor het.
"Mense moet onthou dat alle organisasies probleme en verskille van tyd tot tyd het, maar dis nie noodwendig rasseverskille nie. Meestal is dit bloot kultuurverskille wat aanleiding tot groot probleme gee."
Dawn Oliver gesê dat kiesers dreig om nie vir die DA te stem nie, as gevolg van swak kommunikasie en bemarking.
Peter van der Poll, asook ander sakemense het oor die hoë elektrisiteitstariewe gekla, waarna Stroebel verduidelik het hoe die stelsel werk. Bredell het hierop genoem dat hulle ondersoek sal instel.
"Ons is in 'n vennootskap met vier universiteite om 'n beter stelsel in plek te sit."
Johanna Tarentaal het die kwessie oor die nuwe beplande behuising vir Heidelberg aangeroer en gevra dat daar indringend na die waglys gekyk moet word om probleme van die verlede te vermy.
Riddles het gevra of daar nog vir die ANC gestem kan word as na die ander provinsies gekyk word waar hulle in beheer is. Hy het ook verwys na Hessequa se skoon oudit vir die vyfde agtereenvolgende jaar.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'