RIVERSDAL NUUS - 'n Groepie DA-ondersteuners het Maandagoggend, 5 Junie, voor die Riversdal-landdroshof byeengekom om hul misnoeë oor "korrupsie" in die ANC uit te spreek.
Dié protesaksie het saamgeval met die verskyning van die ANC-raadslid Chris Taute op verskeie aanklagte van bedrog.
Taute se saak is ná 'n vlugtige verskyning uitgestel na die streekhof in George waar hy op Vrydag 7 Julie sal voorkom.
Vendea Fortuin, DA-voorsitter vir die Oos-streek, het die ondersteuners toegespreek en gesê die DA is absoluut gekant teen korrupsie.
"Ons waardes is duidelik. Ons staan vir skoon regering en waar daar ongeruimdhede voorkom sal ons dit met hand en tand beveg. Ook in eie geledere.
"Mens hoef maar net in die media te lees van die grootskeepse vermorsing en korrupsie met staatsgeld en -tenders. Dis geld wat geoormerk is om die lewensomstandighede van alle Suid-Afrikaners te verbeter. Daarom sê ons 'nee' vir korrupsie en 'nee' vir 'n ANC-regering."
Fortuin sê hulle het volle vertroue in die regstelsel wat vry en regverdig is en daarom glo ons die waarheid sal seëvier.
Jobieth Hoogbaard, DA-kiesafdelings-voorsitter van Hessequa, het gesê dis hoogtyd dat al die inwoners van Hessequa opstaan en nee sê vir korrupsie in enige vorm.
Hy het die aanwesiges bedank vir hul ondersteuning en ook vir die vertroue wat hulle in die laaste plaaslike verkiesing in die DA geplaas het om die leisels by die ANC oor te neem. "Ons sê hard en duidelik 'ja' vir skoon regering' en 'nee' vir korrupsie.
Intussen gons dit onder inwoners oor die uitkoms van die saak teen die tydelik geskorste Louw Saayman, hoof van inkomste van Hessequa-munisipaliteit. Saayman is al in November 2022 tydelik geskors en hoewel die ondersoek reeds glo in April vanjaar afgehandel is, swyg die munisipaliteit oor die uitslag.
'n Inwoner wat met Saayman telefonies gesels het, sê hy is net so in die duister oor die finale uitslag.
Die ondersoek na Grant Riddles, uitvoerende burgemeester, is tans in die hande van die munisipale tugkomitee. Sodra hulle 'n besluit geneem het, sal dit weer terug na die raad verwys word.
DA-ondersteuners drom Maandagoggend voor die plaaslike landdroshof saam om hul misnoeë uit te spreek oor die korrupsie in die ANC-regering. Foto's: Hugo Redelinghuys
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’