OUDTSHOORN NUUS - Die 24ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se program is Maandag bekendgestel as 'n ware familiefees.
Dit bied iets vir almal, met snykantteater, uiteenlopende musiek en hope jeug- en kindervermaak en word van Donderdag 29 Maart tot Woensdag 4 April, in die skoolvakansie en oor Paasnaweek, op Oudtshoorn aangebied.
Toekenning
Tydens die bekendstelling by die Oudtshoornse Ostrich Emporium is die akteur Tobie Cronjé, wat vanjaar 70 word, vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir lewensbydrae tot die kunste.
Hy is saam met Grethe Fox, wat ná 'n lang afwesigheid terugkeer na die verhoog, te sien in Eugène Ionesco se absurde tragi-klug Die stoele, onder spelleiding van Marthinus Basson.
Prys
Die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys word aan Hannes Coetzee toegeken - die eiesoortige kitaarspeler wat 'n teelepel inspan om rou klanke op te tower en wat in David Kramer se Karoo Kitaar Blues nasionaal en internasionaal groot aandag getrek het. Saam met Frazer Barry, Earl Witbooi, Loit Sols, Deniel Barry en Stefne van Dyk word die oorsprong van die snaarinstrument in die Suid-Afrikaanse tradisionele folkmusiek in Lepeltjie vol snare op musikale noot nagespeur.
Visuele kunste
'n Pa én seun lewer vanjaar 'n groot bydrae tot die visuele kuns - Johannes Maswanganyi as 2018 se feeskunstenaar en Collen Maswanganyi as ontvanger van die Kunste Onbeperk-prys vir 'n Nuwe Stem. Albei maak houtbeelde, albei hou daarvan om op groot skaal te werk, maar so skyn elkeen se eie stem ook deur.
Lucia Boer, die KKNK se nuwe kunskurator, omskep die Prince Vintcent-gebou in 'n ruimte waar daar iets vir 'n ieder en elk is om uit te kies en keur onder die tema Krap waar dit jeuk.
En om allerlei hoeke en draaie gaan interessante installasies feesgangers verras.
Teksmark
'n Volstruisveer in die KKNK se hoed is twee tekste van Kunste Onbeperk se 2018-Teksmark wat by die fees debuteer. Die skaarsheid van water en wat mense alles sal doen om dit in die hande te kry, is die stofgegewe van Bauke Snyman se Swerfgoed. Die bekroonde aktrise Tinarie van Wyk Loots maak haar buiging as 'n regisseur en Anna-Mart van der Merwe en Nicole Holm is onder andere daarin te sien.
Du Toit Albertze se Die meermin-kompleks verweef fantasie en werklikheid en word as deel van die derde Uitkampteater-aangebied. 'n Verdere bewys van die Teksmark se sukses is drie stukke van 2016 wat nou ook in Oudtshoorn 'n draai maak, Amee Lekas se Die dans van die Watermeid, Marina Albertyn se bekroonde Melk & Vleis en Ingrid Winterbach se Ons is almal freaks hier.
Spesiale-aanbieding
'n Weekkaartjie van R255 bied toegang tot ál die vermaak en 'n dagkaartjies kos R85 per dag.
Kaartjies vir die Kuierbuurt sluit ook toegang in tot die aandprogram op die Huisgenoot-verhoog, waar daar deur die loop van die week ses aandkonserte aangebied word met van die grootste van die groot name in die musiebedryf: Awê Kaktus, Boontoe: Engelstemme, Karoo-nag, kykNET - Dans op die vlaktes, Rymklets van Oos tot Wes en Sterrenag - Musiek met hart.
Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za.
Kaartjieverkope open Dinsdag 23 Januarie by Computicket, Shoprite/Checkers en House and Home. Verblyfbesprekings kan by verblyf@kunste.org.za of 044 203 8600 gedoen word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'