MOTORNUUS - Om 'n band te ruil klink soos iets wat almal behoort te kan doen, maar baie mans en vroue maak steeds staat op barmhartige Samaritane of wag vir padbystanddienste om te kom help - soms met rampspoedige gevolge.
Dis absoluut noodsaaklik en kan selfs jou lewe red om te weet hoe om jouself weer terug op die pad te kry.
'n Meningsopname in die Verenigde Koninkryk het bevind dat 38% van motorbestuurders van 18-34 jaar oud nie 'n band kan omruil of 'n voertuig se lekplekhersteltoerusting kan gebruik nie. 'n Ander opname het onthul dat 52% mans erken hulle sal verby hou as hulle 'n vrou wat gestrand is teëkom. Dit het ook bevind dat jonger mans meer huiwerig is om te stop omdat hulle te min van basiese voertuigonderhoud weet. Die situasie in Suid-Afrika is heel moontlik soortgelyk.
"Jy kan nie altyd vir iemand wag om jou te help nie. Dit maak jou kwesbaar vir rowe, kapings of erger. Dis eintlik baie eenvoudig om 'n band om te ruil en neem slegs 'n paar minute met die regte kennis en gereedskap," sê Ricardo Coetzee van Auto & General.
So maak mens
- Wees voorbereid: Hou altyd 'n veiligheidsdriehoek, flitslig, basiese gereedskapstel, draagbare domkrag en 'n opgepompte spaarwiel gereed, sowel as 'n gepaste moersleutel.
- Indien jou voertuig nie 'n spaarwiel het nie, maar lekplekhersteltoerusting gebruik, maak seker dat jy weet hoe dit werk.
- Handskoene en 'n reflekterende baadjie is ook handig.
- Wanneer 'n wiel bars, probeer om in 'n veilige area te stop waar jy ver van bewegende voertuie is en duidelik sigbaar is vir aankomende verkeer.
- Probeer om op gelyke grond te parkeer. Indien jy teen 'n op- of afdraande gestrand is, draai die wiele na die sypaadjie of ander voorwerp wat die voertuig kan stuit om te verhoed dat dit wegrol.
- Aktiveer die handrem, sluit die voertuig af en sit dit in rat. Outomatiese voertuie kan in drive gelaat word.
- Plaas jou nooddriehoek sowat 45 tot 50 meter agter jou voertuig om ander bestuurders te waarsku. As jy op 'n draai gestrand is, plaas dit verder terug.
- Maak seker dat jy gereeld om jou rondkyk vir verdagte persone of ander moontlike bedreigings.
- Plaas die domkrag onder die voertuig. Meeste voertuie het domkragpunte waar die onderstel sterk genoeg is om die gewig te dra, aan die onder-sykant van die voertuig.
- Maak seker dat dit op soliede, harde grond is wat nie sal meegee nie. Moenie die voertuig begin opdomkrag nie – dit dien op hierdie stadium net as 'n noodstut.
- Maak die moere los net tot op die punt waar jy hulle gemaklik met een hand en die moerlsleutel kan draai. Meeste wielmoere maak antikloksgewys los, tensy hulle 'n "L" ophet en kloksgewys losmaak.
- Sodra dit los genoeg is, kan jy die voertuig begin opdomkrag – nie te hoog nie, want hoe hoër jy dit lig, hoe hoër sal jy die spaarwiel moet optel om dit in plek te kry.
- Draai die moere heeltemal los en haal die ou wiel af.
- Pas die spaarwiel waar die ou wiel was. Daar sal waarskynlik merkies op die band self of op die wiel wees om te wys watter kant na die voertuig toe, en weg van die voertuig af, moet wys.
- Maak die moere eers met jou hand vas in 'n oorkruis-patroon, net om seker te maak dat die wiel gelyk vastrek.
- Maak die moere so vas as wat jy kan met die moersleutel en een hand en laat sak dan die voertuig tot die wiele aan die grond raak.
- Hou 'n deel van die gewig steeds op die domkrag. Maak die moere dan stywer – in 'n oorkruis-patroon - vas met die moersleutel.
- Laat sak die voertuig tot op die grond en maak die moere so styf as moontlik vas. Staan op die moersleutel indien jy moet.
- Laat sak die voertuig heeltemal en verwyder die domkrag.
- Bêre die spaarwiel en ander gereedskap.
- Ry eers stadig om seker te maak dat als mooi vas is, voor jy begin versnel. Hou by die spoedbeperking (gewoonlik 80 km/h) van die noodwiel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'