RIVERSDAL NUUS - Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het hierdie week die Suid-Kaap besoek waar hy die vordering van verskeie groot infrastruktuurprojekte van Hessequa-munisipaliteit kom evalueer het.
Tydens ’n vergadering met die munisipale raad het Winde, Hessequa-burgemeester Grant Riddles en sy span, gelukgewens met hul prestasie as een van Suid-Afrika se beste presterende munisipaliteite by die eerste Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereniging se munisipale prestasietoekennings.
“Hierdie erkenning getuig van stabiliteit, innovasie en veral goeie leierskap - die regte mense op die regte plekke. Sterk bestuur en visie is die grondslag vir volhoubare groei,” het Winde gesê.
Groot infrastruktuurprojekte
Die premier is ingelig oor ’n reeks lopende projekte, waaronder:
Die Melkhoutfontein-Wes behuisingsprojek, waar 23 nuwe huise in Junie aan begunstigdes oorhandig is.
Die Kwanokuthula-sakekern, moontlik gemaak deur befondsing van die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, wat jong entrepreneurs gaan ondersteun.
’n Sokkerveld, deel van die Kwanokuthula-korridorontwikkeling, wat sport- en ontspanningsgeleenthede vir die jeug bied.
Winde het ook die terrein van die Riversdal-sonkragaanleg besoek, waar hy vroeër vanjaar die eerste grond omgespit het.
Die aanleg bestaan uit ’n 10 MW-son- en batterystelsel wat jaarliks sowat 15 miljoen kilowatt-ure sal opwek.
“Ek is beïndruk met die spoed van die bouwerk. Indien dit so voortgaan, sal die aanleg waarskynlik voor skedule voltooi word en ’n baken van hernubare energie vir die streek word,” het Winde gesê.
“Betroubare, volhoubare en bekostigbare energie is ’n voorvereiste vir ekonomiese groei.”
Die munisipaliteit belê ook meer as R18 miljoen in die opgradering van die Riversdal-rioolwerke, wat tans goed vorder.
Nuwe besighede bring werk
Winde het verder die opening van twee nuwe besighede in die area gevier - ’n Shoprite in Riversdal, wat reeds meer as 60 plaaslike inwoners in diens het, en die nuwe FreshStop-winkel in Heidelberg, wat binnekort sy deure sal oopmaak.
“Waar daar belegging is, is daar groei en werk,” het Winde beklemtoon.
“Ons berei tans voor vir die eerste Wes-Kaapse Beleggingsberaad van 5 tot 7 November - ’n platform om verdere beleggings en werkskepping in die provinsie te bevorder.
Sterk en stabiele beleggersvertroue is die sleutel tot beter dienslewering én groter ekonomiese waardigheid vir ons inwoners.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’