RIVERSDAL NUUS - Groot trots heers in Riversdal, nadat Henco Smith, skoolhoof van Hoërskool Langenhoven, Vrydag 15 Augustus as die top provinsiale wenner in die kategorie Uitnemendheid in Sekondêre Skoolleierskap tydens die 2025 Provincial Teaching Awards in Kaapstad aangewys is.
Die gesogte toekenningsgeleentheid bring jaarliks die Wes-Kaap se uitblink-onderwysers byeen om erkenning te gee aan diegene wat ’n beduidende verskil in die onderwyssektor maak.
Volgens die organiseerders word die prys toegeken aan skoolleiers wat uitsonderlike visie en bestuursvernuf toon, en wat ’n positiewe impak het op beide hul skole en die gemeenskappe wat hulle dien.
Smith se prestasie word as ’n mylpaal vir Hoërskool Langenhoven en die breër Riversdal-gemeenskap beskou. “Ons is ongelooflik trots op Smith - sy harde werk en toewyding dra daagliks vrug,” het ’n woordvoerder van die skool gesê.
Die wenner sal die Wes-Kaap later vanjaar by die Nasionale Onderwys-toekennings verteenwoordig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’