SUID-KAAP NUUS - Die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap (SCLI) bied op Donderdag 19 Maart ‘n Indringerplant-opleidingswerksessie vir grondeienaars in die Suid-Kaap aan.
Belangstellendes kan ‘n e-pos rig aan Marti Kirstein by marti.kirstein@gmail.com.
Cobus Meiring, voorsitter van die SCLI, waarsku dat die aggressiewe groei van indringerplante ‘n daadwerklike bedreiging vir rivierstelsels inhou.
“Faktore soos digbegroeide bondels van indringerplante in riviere, vleie en stroompies wat stelsels soos die Groot- en Klein-Brakriviere voed, funksioneer lank reeds nie meer optimaal nie. In baie gevalle bestaan die biodiversiteit waarvoor die Tuinroete bekend is, glad nie meer nie,” sê hy.
Die SCLI is tans besig met ‘n projek om 75 grondeienaars in die Groot-Brak-, Kaaimans-, Touw-, Goukamma- en Knysna-riviere by te staan met die opstel van indringerplant-bestuursplanne. Volgens wet moet alle grondeienaars soortgelyke bestuursplanne in plek hê.
Dié planne dui onder meer aan wat die toestand van ‘n eiendom is ten opsigte van die aanwesigheid van indringerplantegroei. Dit dui ook aan hoe daar geprioritiseer moet word in die bekamping van indringerplantegroei.
Voorts verleen die SCLI ook bystand aan grondeienaars wat geaffekteer is deur die 2017 en 2018 wegholveldbrande ten einde hulle te help met die bestryding van indringerplantegroei wat aggressief teruggroei na die brande en wat veral nou na die goeie somerreënval vinnig en buite beheer teruggroei.
“Dié indringerplante kan weereens ‘n brandrisiko vir die streek word,” maan Meiring.
Vyf rivierstelsels deel van bewaringsinisiatief
Die bogenoemde vyf rivierstelsels vorm die basis van die SCLI-bewaringsinisiatief wat daarop gemik i som die ekologiese integriteit van die riviere te verbeter in samewerking met aanliggende grondeienaars.
“Die Outeniqua-bergreeks wat uittroon bo George, is een van Suid-Afrika se 21 waterbronne wat geklassifiseer word as van nasionaal-strategiese belang. Dit funksioneer letterlik as ‘n waterfabriek wat buitengewone hoeveelhede vars water genereer en aan die streek vrystel,” verduidelik Meiring.
“Uit die aard van die saak is dit in belang van die streek dat die oorsprong van ons waterhulpbronne ‘n hoë bewaringsprioriteit moet geniet. Die feit dat die Outeniquaberge merendeels onder die bestuur van SANParke en CapeNature val, is van groot waarde, synde dat beide instansies bekwame grondbestuursprakyke toepas, en relatief goed gefinansier word."
Meiring sê wat ook in die guns tel van die behoud van die Suid-Kaap se riviere is die feit dat die riviermondings, wat hulle oorsprong in die Outeniquaberge het, ook deur óf SANParke óf CapeNature bestuur word, en derhalwe hoë bewaringstatus geniet.
“Areas aanliggend tot die Outeniquaberge is belangrike opvangsgebiede en is meestal geleë op plase en in semi-beboude areas, wat in privaat besit is. Dié areas is as opvanggebiede net so belangrik vanweë die beskikbaarstelling van kosbare vars water en die direkte impak wat dit op die ekologiese integriteit van die streek se rivierstelsels het."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'