Update
SWELLENDAM NUUS - Werknemers het besluit om te staak nadat hul werkgewer, Southern Oil (Soill) nie aan hul eise van 'n 20% salarisverhoging wou toegee nie.
Nagenoeg 100 werkers het onder leiding van Nosey Pieterse op Maandag 25 Junie al die ingange tot die fabriek afgesper. Rommel en motorbuitebande is voor ingange gegooi en aan die brand gesteek, terwyl hulle getoi-toi het. Die werkers is almal lede van Agricultural Workers Union of South Africa (Bawusa).
Pieterse en die plaaslike leierskorps was tydens die staking in gesprek met die bestuur.
Die plaaslike polisie en lede van die openbare orde-polisie (Pops) was teenwoordig om orde te handhaaf. Geen onbehoorlike voorvalle is aangemeld nie.
Volgens Pieterse het die bestuur hulle nie aan die werkers se pleidooie, tydens die onlangse onderhandelinge gesteur nie.
Hy het gesê: "Hulle het nie hul werkers se swaarkry in ag geneem nie. Solank hulle in weelde leef, is hulle nie regtig bekommerd oor hul werkers se welstand nie."
Die beplande staking het laatmiddag tot 'n einde gekom nadat 'n ooreenkoms van 'n 10% salarisverhoging bereik is en dat die werkers die volgende dag weer na die werk sal terugkeer.
Dit is deur Pieterse aan Suid-Kaap Forum bevestig. Kellie Becker, besturende direkteur van Southern Oil het by navraag gesê: "Southern Oil (Edms.) Bpk. is van 'n industriële aksie in kennis gestel wat deur die unie vir Maandag beplan was. Dit was nadat salarisonderhandelinge nie suksesvol afgehandel kon word nie.
Die maatskappy het die verteenwoordigers vir verdere onderhandelinge genooi en 'n ooreenkoms is om 16:30 bereik.
Ontevrede werkers toi-toi buite die fabriek tydens die eendagstaking. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Rommel word in die straat, buite die fabriek gebrand. Foto: Verskaf
"Die maatskappy heg groot waarde aan die belangrikheid van goeie werknemerverhoudinge en is oortuig dat die skikking tot voordeel van alle belanghebbendes is."
Lees 'n vorige artikel: Werkers staak vir beter salaris
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Hessequa nuus'