Update
STILBAAI NUUS - 'n Plaaswerker wat deur 'n slang gepik is, het heeltemal herstel en is op 13 Januarie uit die Riversdal-hospitaal ontslaan.
George Fredericks is Donderdag 9 Januarie deur 'n Kaapse kobra gepik. Hy is na die hospitaal geneem waar hy teengif, wat sy lewe gered het, toegedien is.
"As 'n olyfboer sien ek dikwels kobras en pofadders in die boord, maar ook in my huis, swembad en perdestalle en -kampe," sê Alison Bryant, voorsitter van die Stilbaai-gemeenskaps-polisiëring-subforum (GPFS). "Ek het geweet dis net 'n kwessie van tyd voor iemand gepik word."
In 2017 het sy begin navraag doen oor die beskikbaarheid van teengif by hospitale. "Ek het in Oktober 2017 met dr. Gideon van Tonder by Riversdal-hospitaal kontak gemaak en hy het my verseker dat die hospitaal altyd ten minste 10 eenhede teengif in voorraad het."
Aan die begin van die somer maak sy seker of hulle voorraad het sodat sy die 350 lede op die GPFS se WhatsApp-groepe kan laat weet. Dit is juis een van dié boere se werkers wat gepik is.
Nadia Ferreira, Wes-Kaap gesondheidsdepartement se woordvoerder, het bevestig dat 'n persoon wat aan die beskrywing voldoen in die hospitaal behandeling teen slangbyt ontvang. Volgens haar word teengif wat van die Cape Medical Depot verkry word, by alle openbare hospitale in die Suid-Kaap aangehou. "Dit het 'n kort raklewe, maar word gereeld tussen hospitale in die distrik uitgeruil soos dit benodig word."
Indien 'n persoon deur 'n giftige slang gepik word, moet hy/sy so spoedig moontlik by 'n hospitaal kom. "Daar is verskeie faktore wat 'n rol speel en dus kan ons nie 'n enkele tydperk daaraan koppel nie."
’n Kaapse kobra of geelslang se byt kan dodelik wees.
Lees 'n vorige artikel: Werker oorleef kobra se pik
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'