STILBAAI NUUS - Die Blombos Museum van Argeologie in Stilbaai huisves die argeologiese erfenis van die Hessequa streek van sover as 90 000 tot 140 000 jaar gelede en is onlangs teen groot koste gemoderniseer.
Professor Christopher Henshilwood, wat baie nou betrokke is by die Blombosgrot uitgrawings, het tydens die opening die aanwesiges op 'n reis gevat deur die eeue en daarna het hy en Thinus van den Berg, speaker van Hessequa Munisipaliteit, die lint geknip.
Fondse vir die projek is beskikbaar gestel deur die Wes-Kaapse Regering, Hessequa Munisipaliteit en talle individuele donateurs.
Replikas van klipwerktuie vanuit die Blombosgrot, rotskuns van die Hessequa, die antieke visvywers, skulphope en talle ander voorbeelde van paleontologiese, argeologiese en kulturele belangrikheid van die Hessequa streek word hier uitgestal.
Die besoeker word met klank en beeld op 'n reis deur die eeue gevat en is beslis die moeite werd om te besoek.
Die museum wat Maandae van 09:00 tot 17:00, Saterdae en publieke vakansiedae van 09:00 tot 12:30 oop is, is geleë in die Stilbaai Toerismeburo se gebou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’