STILBAAI NUUS - Die Militêre Veterane-vereniging van Stilbaai het Sondag 9 November Wapenstilstanddag gevier deur kruise te lê ter ere aan al die soldate wat in die twee wêreldoorloë, en alle oorloë daarna, gesterf het.
Dié eerbetoning vind altyd plaas op die Sondag naaste aan 11 November.
'n Hele klompie belangstellendes het vir die verrigtinge opgedaag en daar is heelwat kruise gelê.
Richard Webb staan jaarliks aan die stuur van die reëlings en Wapenstilstanddag lê hom baie na aan die hart.
Hy sê toe hy dit die eerste keer gedoen het, het hy en twee makkers met hulle gades dit by die polisiestasie gedoen, want dit is waar hulle 'n vlagpaal kon kry. Hy het toe sommer ook al die polisiemanne op diens opgekommandeer om deel daarvan te wees.
Deesdae daag daar enigiets tussen dertig en vyftig belangstellendes op.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’