STILBAAI NUUS - 'n Dooie boggelrugwalvis het op die rotse by Jongensfontein uitgespoel.
Volgens Jean du Plessis van CapeNature het hulle Maandag 29 September bewus geraak van die walvis wat in die golwe buite Jongensfontein gedryf het.
Van ver af het dit kompleet soos die romp van 'n omgeslane boot gelyk.
Die NSRI het gaan ondersoek instel, maar dit was die walvis karkas en hulle kon niks verder doen nie.
Die walvis het ongelukkig op 'n onbegaanbare plek vir voertuie op die rotse uitgespoel en om dit te verwyder is 'n baie moeilike operasie.
Jean het aan die munisipaliteit voorgestel dat hulle 'n paar dae wag en kyk of die walvis nie met rowwe seetoestande op 'n beter plek of nader aan die strand sal uitspoel nie, want dit sal baie help met die verwydering van die karkas.
Die publiek hoef nie bekommerd te wees nie, want al die rolspelers monitor die situasie en sal doen wat nodig is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’