HEIDELBERG NUUS - Wally is nog kát! Sy naam is Wallace - ook liefdevol as Wally en Walbal en soms die stoutgat Wallace-Dean - bekend.
Hy is Joske de Beer van Heidelberg se liefkat. Sy een beentjie moes geamputeer word weens ‘n windbukskoeël wat hom op 13 Augustus vanjaar getref het.
Dié roekelose, onmenslike daad deur ‘n onbesonne inwoner het De Beer reeds oor die R30 000 gekos om sy katseuntjie te red en na herstel te kondisioneer.
Maar nou is hy ‘n vreugdevolle skootkat!
“Hy het in die begin gesukkel om sy beperkings te leer ken. Hy kan nie meer so rats op toonbakke opspring en matte krap nie, maar dié ou laat hom nie onderkry nie. Hy is aktief en hy eet gráág. Ek moes ‘n paar veranderinge aanbring, soos kosbakkies wat van die vloer oplig sodat dit vir hom geriefliker is. Ek noem hom nou ‘differently-abled’.
Ek is ontsettend dankbaar vir die Riversdal-dierekliniek se sorg en Suid-Kaap Forum se ondersteuning tydens die pad na Wally se herstel,” sê De Beer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’