STILBAAI NUUS - Die vrywilligers van Stilbaai Coastal Cleanup, het Donderdagoggend, 13 November, die stukkie Jongensfonteinpad van Drie Ankers tot by Hoofweg-Wes en die oop erf langs OK Foods getakel om rommel op te tel.
Die groep het onder leiding van Clifton Donald, binne 90 minute, 30 vullissakke vol rommel opgetel.
Kobus Lourens het oral op die roete oranje kegels uitgepak en 'n verkeersbeampte van Hessequa-munisipaliteit het deurentyd 'n bietjie verkeerskalmering gedoen op hierdie besige roete.
Hierdie samewerking tussen die gemeenskap en plaaslike regering is noodsaaklik en dit laat Stilbaai uitstaan as een van die skoonste dorpe in Suid-Afrika.
Dit is ook nie nodig dat sulke aksies net in groepe uitgevoer word nie. As elke inwoner net rondom hom of haar rommelvry hou of die gewoonte aankweek om met 'n sakkie te stap en rommel wat jy raakloop op te tel sal ons die omgewing bewaar vir die nageslag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’