Update
HESSEQUA NUUS - Vyf strate, waarvan drie in Witsand en twee in Stilbaai is, is nou amptelik munisipale verantwoordelikheid.
Steenbrasstraat, Geelstertstraat en Joseph Barry Rylaan (Witsand), asook Versfeldstraat en Waterblomrylaan (Stilbaai) is vir etlike jare deur Hessequa-munisipaliteit onderhou, min wetend dat dit die Wes-Kaapse regering se verantwoordelikheid was om na dié strate om te sien aangesien dit nie op die munisipaliteit se bateregister aangeteken was nie.
Woongebiede binne Stilbaai en Witsand word deur al vyf paaie bedien.
Tydens 'n 3 Desember spesiale raadsvergadering het die speaker, Andrew Stroebel sy raad van die provinsiale regering se intensie om die paaie amptelik munisipale verantwoordelikheid te maak ingelig. "Ons onderhou in elk geval die paaie al 'n mooi tydjie," het hy gesê.
Werner Manho, direkteur tegniese dienste het die raad meegedeel dat die provinsiale regering hul bateregister onlangs nagegaan en ontdek het dat die paaie eintlik die munisipaliteit se verantwoordelikheid is.
Die ANC-komponent in die raad het die oordrag met 'n knippie sout aanvaar, maar die jarelange-instandhouding van die paaie bevraagteken. Chris Taute, hoofsweep van die opposisie party het gesê: "So, provinsie skuld ons 20 jaar se onderhoudsgeld."
Taute het aangevoer dat indien die paaie verswak, dit 'n ekstra finansiële las vir die munisipaliteit sal wees. "Dis 'n bate vir ons, maar dit kan dalk 'n duur bate wees," het hy bygevoeg.
Manho het gesê hy dink nie provinsie gaan addisionele fondse beskikbaar stel om die paaie te onderhou nie. Hy het verduidelik dat die provinsiale regering volgens 'n berekening van die aantal paaie binne munisipale gebiede, geld toeken vir die onderhoud daarvan. "Hierdie paaie is in 'n goeie toestand. Dit word reeds vanuit ons operasionele fonds onderhou."
Vorige artikel: Vrae oor oordrag van paaie
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'