RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal Voortrekkers het van 6 tot 8 Maart hul jaarlikse kommandokamp op Oudebosch-plaas, in 'n akkerbos buite die dorp, aangebied.
Die kamp is gelei deur kommandoleier Tielman Roos en adjunkkommandoleier Licele Visser.
Daar was sowat 90 deelnemers, waaronder ongeveer 60 skoolkinders van gr. R tot gr. 12 en sowat 30 volwassenes.
Met geen vaste geriewe op die kampterrein nie, moes alles vir die kombuis aangery word.
Deelnemers het in weermagtente geslaap en selfs hul eie toiletgeriewe gegrawe - wat volgens die Voortrekkers skoner as baie openbare toilette was.
Verskeie kursusse is gedurende die dag aangebied, waaronder radiospraak, selfverdediging, kolskoot, ruimtewaarneming en tuinmaak.
Die Voortrekkers het ook aan hul jaarlikse fondsinsamelingsprojek gewerk deur paadjies vir UTSB oop te maak.
Jolandie Buck van die Gouritz-groepsbiosfeerreservaat (GCBR) het deelnemers ook meer geleer oor die toepassing, iNaturalist, waarmee waarnemings in die natuur aangeteken en met wetenskaplikes wêreldwyd gedeel kan word.
Die nagaktiwiteite het vir heelwat opwinding gesorg.
Op die eerste aand het die hoërskoolverkenners die kamp probeer "bekruip" om 'n alarm te laat afgaan, terwyl die laerskoolkinders hulle moes probeer vang.
Die tweede aand het die verkenners aan 'n nagmars deelgeneem wat soos 'n skattejag in die donker verloop het, met leidrade, kompaswerk en verskeie hindernisse langs die roete.
Die kamp is Sondag met 'n erediens, gelei deur pastoor Francois Barnard, onder die bome afgesluit.
Dit het 'n gepaste einde aan die naweek se aktiwiteite gebring het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’