STILBAAI NUUS - Die vroeë bewoners van Hessequa was baie afhanklik van vis en seekos vir hulle voortbestaan en die visvywers oral langs die kus is 'n getuie daarvan.
Daar word beraam dat die visvywers by Skulpiesbaai al 3 500 jaar gelede gebou is en meeste van die vywers is nog in 'n baie goeie toestand.
Stormsee en die branders slaan egter van die klippe uit posisie uit en as dit nie teruggepak word nie sal die vywers mettertyd net 'n hoop klippe wees.
Om daardie rede nooi Cape Nature op 'n gereelde basis vrywilligers om saam met hulle die vywers in te vaar om die klippe weer op hulle plek te pak.
So 'n dag was weer gereël vir 18 Desember 2024 en tien vrywilligers, meestal van Stilbaai, het saam met die Cape Nature groep gewoel om sekere vywers se mure weer reg te pak.
Stilbaai Bewaringstrust is ook baie gemoeid met die bewaring van die vywers en hulle het al 'n kaart opgestel met die ligging van die 25 vywers by Skulpiesbaai, met hulle name daarby.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’