STILBAAI NUUS - Die sakegemeenskap en belangstellendes kan Dinsdag-aand, 24 Mei, uitvind wat Hessequa-munisipaliteit se visie en strategie vir dié kusdorpie is.
Die uitvoerende burgemeesters-komitee gaan tydens Stilbaai-sakekamer se algemene jaarvergadering inwoners hieroor inlig.
Die sakekamer doen 'n beroep op alle sakemense van die dorp om in die gesprek te deel.
"Daar lê gewis opwindende tye vir Stilbaai voor en die sakekamer gee jou die geleentheid om deel daarvan te wees," nooi Rachel Wall, voorsitter.
"Die aktiwiteite gedurende die 2021/2022 finansiële jaar het weereens gedemonstreer waarom Stilbaai-sakekamer so 'n betroubare vennoot vir besigheid is."
Die vergadering is ook 'n belangrike jaarlikse geleentheid omdat dit die geleentheid bied om vrae te vra rakende die aktiwiteite, strategie en finansiële prestasie van die sakekamer.
Lede wat vrae wil indien kan dit doen deur 'n epos te stuur na [email protected].
Persone wat die vergadering om 18:15 by Stilbaai-gholfklub wil bywoon, moet bywoning bevestig voor 20 Mei by vermelde e-pos.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'