EDEN - Hengelklubs van Stilbaai, George, Plettenbergbaai, Outeniqua, Mosselbaai en Triton het Saterdag 21 November tydens die Eden-hengelliga in Stilbaai kragte gemeet.
Die ligte suidwestewind het uitdagende omstandighede vir die hengelaars geskep, aangesien dié windrigting gewoonlik nie gunstig vir goeie vangste is nie.
Stilbaai het met 'n totale vangsgewig van 181,5 kg die A-liga gewen. George het met 156,58 kg tweede geëindig, gevolg deur Plettenbergbaai in die derde plek met 145,06 kg.
Outeniqua was vierde met 136,52 kg, Mosselbaai vyfde met 120,74 kg en Triton sesde met 30,06 kg.
In die B-liga het Triton met 'n vangsgewig van 126,3 kg koning gekraai. George was tweede met 108,27 kg, Mosselbaai derde met 94,45 kg, Outeniqua vierde met 66,76 kg,
Plettenbergbaai vyfde met 54,45 kg en Stilbaai sesde met 18,26 kg.
Mariette Westward, Elzanne Cronje en Chris van Zyl van Stilbaai-hengelklub. Foto: Sonia Wahl
Outeniqua het die C-liga met 'n vangsgewig van 51,56 kg gewen. Plettenbergbaai se eerste span het 42,23 kg aangeteken, terwyl die tweede span met 3,91 kg geëindig het.
Hendrico Lesch van die Outeniqua-hengelklub en lid van die Protea-seniorspan, saam met AJ de Beer van Plettenbergbaai-hengelklub, wat ook as afrigter van die Protea-seniorspan optree. Foto: Sonia Wahl
Die grootste eetbare vis van die dag was 'n kabeljou van 42,36 kg wat deur Adrian du Plooy van Triton Hengelklub gevang is.
Die grootste nie-eetbare vis was 'n gespikkelde sloephaai van 24,64 kg, wat deur Gerhard Faber van George-hengelklub gevang is.
Rigard Lesch van Outeniqua-hengelklub, Gerhard Faber van George-hengelklub en Monique Lesch van Outeniqua-hengelklub.
Du Plooy het ook die eerste plek in die ope afdeling behaal met 93,33 punte. Henry Botha van Outeniqua was tweede met 86,2 punte, gevolg deur die 12-jarige Sam Muller jr. van George met 85,32 punte.
Muller het boonop 'n besonderse vangs ingepalm toe hy heeltemal op sy eie 'n indrukwekkende kabeljou van 124 cm lank gevang het.
George-hengelklub se 12-jarige Sam Muller met sy indrukwekkende 124 cm-kabeljou, wat hy op sy eie uitgetrek het. Foto: Sonia Wahl
Jacques Pace van Mosselbaai het vierde geëindig met 80,07 punte en Jade Badenhorst van Stilbaai vyfde met 77,07 punte.
Die hengelaars het hul lyne ingegooi en wag in spanning dat die grote moet byt. Foto: Sonia Wahl
Die puntestelsel maak voorsiening vir 'n maksimum van 100 punte per liga. Die hoeveelheid vis dra 10 punte by, terwyl die totale gewig vir 30 punte tel.
Albei word volgens 'n pro rata-stelsel bereken. Die oorblywende 60 punte word as ligapunte toegeken en bepaal die hengelaar se finale posisie in die kompetisie.
* Die hengelkompetisies word volgens die vang-en-vrylaat-beginsel aangebied. Geen vis, ongeag die spesie of grootte, mag gehou word nie. Alle visse word so gou moontlik gemeet en daarna veilig in die water teruggeplaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’