RIVERSDAL NUUS - Uitdagende tye verg vingdingrykheid en kreatiewe maniere om die spreekwoordelike pot aan die kook te hou. Dit is die tema van vanjaar se kinderkunsprojek: Ons laat die kunspot kook.
"Leerders kon dié idioom eiesoortig interpreteer, hul bonsende lewenslus ontgin, uitbeeld wat hulle inspireer en waarna hulle streef om die pot aan die kook te hou. Dit kon ook letterlik 'n pot vol kuns wees," sé Louise Kluyts, die voorsitter van Hessequa se kunsroetekomitee en die kurator van die Hessequa Harmonie-kunstefees wat nog tot 23 September op Heidelberg aangebied word.
Daar was 187 inskrywings. Leerders van graad vyf tot sewe het deelgeneem.
Oorspronklik, kleurryk, verbeeldingryk, kreatief en uiteenlopend. Só beskryf die keurders die inskrywings van die derde kinderkunsprojek wat deur die Hessequa-kunsroete, in samewerking met die streek se dorpsbiblioteke, aangebied is.
Die keuringpaneel, gekoördineer deur die BASA-bekroonde kunstejoernalis en -resensent Christiaan J de Swardt, het aanvanklik spontaan 37 werke geëien wat hulle onmiddellik getref het. Oorspronklikheid, kreatiwiteit, verbeelding, stemming, tegniek en kleurgebruik was deel van die kriteria.
Die uitdunne het oor ses fases geskied, waaruit 'n top20 en top10 gespruit het. Elke keurder het met kleurstrokies gestem om die beste werke te eien.
Die vyf gunsteling-werke is volgens 'n puntekriteria-skaal beoordeel en die inskrywing met die hoogste persentasie is as die wenner aangewys.
Hulle sê:
"Die beoordelaars het flink in harmonie gewerk om die oulike kinderkuns te beoordeel. Die vryheid van die tema het die kinders begeester om oor oorlewing (groentetuine, vrugteboorde en visvangs), te teken. Sommige het die pruttende kunspot weergegee en ander het net mooi prentjies geskilder. Omdat die meeste skole nie meer kunsperiodes en opgeleide kunsonderwysers het nie, is dit uiteraard 'n uitdaging om kinders se kunstalent ten volle te ontgin."
• Louwena Kotzé
"Die leerders se verbeelding, spontaneïteit, tegniese vaardighede en stylvryheid het my aangegryp. Dit is egter kommerwekkend dat so min van die leerders mense - wat ondersteuning en samesyn uitbeeld - in hul werke gebruik het. Dit is 'n ongemaklike jammerte wat op gebreke in die gemeenskap dui en aangespreek moet word."
• Anette Fell
"Die gehalte van die inskrywings was bogemiddeld en het met die eerste oogopslag beter gelyk as dié van die vorige jaar. Die leerders het goed gevaar om die kunswerke in die beperkte gewewe tyd te voltooi. Sommige was verrassend kreatief, hoewel ander dalk nie die tema heeltemal volkome gesnap nie." - Danie Cronjé
"Omdat die mees skole nie meer kuns as 'n vak aanbied nie, was die gehalte van die inskrywings verstommend goed en daarom moet dié projek volhoubare aanmoediging kry."
• Marisa de Lange
"Die leerders se vertolking van die tema was verrassend en prettig. Party van die kunswerke was donker en dramaties; ander sorgvry en spontaan. Hierdie is 'n uitstekende projek om die streek se kinderkunstalent te eien en te ontgin.
• Melanie Cloete
"Art is a place for children to learn to trust their ideas, themselves and to explore what is possible, - aldus M Kohll. Dis so lekker om die gesiggies van gelukkige kinders te sien. Kinders wat ywerig deelneem en hul idees en gedagtes op papier sit en met trots en waagmoed met kleure en verf eksperimenteer; om net te ontspan en dit te geniet. Om dit wat hulle dink in beelde uit te druk en deur prentjies te teken en só hulle kreatiewe denke te bevorder. Deur kuns te doen, verbeter hul selfwaarde en trots!"
• Marilise Lombard
Ursula Oosthuizen, die biblioteekbestuur op Riversdal, sê. "Daar is talle uitdagings te midde van die vreugde wat dié projek die leerders en die organiseerders bied. Die begroting sal aangespreek en aangepas moet word."
Christiaan meen: "Dit is duidelik uit dié kommentaar dat daar talle uitdagings is wat die volhoubaarheid van dié projek beïnvloed. Die beskikbare begroting is bloot te klein om gehalte-kunsbenodighede - papier, verf en kwassies – aan al die skole en biblioteke te verskaf.
Dit belemmer gelyke geleenthede om mededingend deel te neem. Die streek se kunstenaars sal in die toekoms daadwerklik as mentors tot kinders se kreatiewe ontwikkeling moet bydra."
Hy sê kuns is 'n weerspieëling van die realiteite, die tekortkominge, die versugtings, die drome en die wense van die samelewing - én die geestesgesondheid van 'n gemeenskap. Kuns kweek selftrots.
Van die inskrywings wat vir die kinderkunskompetisie ontvang is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’