Gallery Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Bibbertemperature, sneeu en Kersvader – nee dis nie Lapland in Desember nie, maar Stilbaai in Julie.
Die 2019 'Christmas in July'-week is van 1 tot 6 Julie op die dorp gehou. Die organiseerders, Johannie Vermeulen en Adolf Botes, is baie tevrede met vanjaar se bywoning. Hulle is veral opgewonde oor die entoesiastiese deelname van jong entrepreneurs wat met hul eie stalletjie by Vrydagaand se nagmark gespog het. Besighede in die Voortrekkerstraat sakekern van die dorp het vier jaar gelede met die 'Christmas in July'-projek begin ten einde 'n ekonomiese inspuiting in die wintermaande te skep en ook om inwoners gesellig bymekaar te bring.
Organisasies en klubs benut die gees van joligheid vir fondsinsameling en daar is spesiale aanbiedinge regdeur die week by verskeie besighede.
Daar was onder meer koekversieringklasse, 'n kwiltuitstalling, 'n ope dag en olyfproe by Oudewerfskloof, 'n rolbaldag en 'n musiekvertoning by een van die restaurante op die dorp.
Die hoogtepunt was ongetwyfeld die straatmark. Die grootste deel van Voortrekkerstraat is al vroeg Vrydagmiddag toegemaak en die opgewondenheid het opgebou met elke Kersversiering wat sy plek gekry het. 'n Wye verskeidenheid stalletjies het hierdie jaar deelgeneem. Tommie en Linda Rademan, wat elke Desember hul woning in Deiningstraat in die 'liggiehuis' omskep, het gesorg vir Kersliggies op die sirkel en deur die straat.
Daar was eetgoed te kies en te keur en talle gesinne het aandete sommer daar aangeskaf. Uitroepe soos 'Sjoe, maar ek het jou lanklaas gesien!' het deur die straat weerklink en al die jongste nuus is uitgeruil.
Verskeie plaaslike kunstenaars het vir lekkerluister musiek gesorg en die soepel kinders van Anwyn's Acro Dance Academy, wat tans aan die Dans in jou Taal-televisiekompetisie deelneem, het toeskouers met hul akrobatiese vernuf in vervoering gehad.
Ander trekpleisters by die mark was Werner du Toit, wat 'n finalis vir vanjaar se Kokkedoor-televisieprogram was, en Anita Peens van Albertinia wat 'n finalis in die Miss Teen Commonwealth SA-kompetisie is.
Kyk 'n video hieronder:
Toe die sneeu begin val, het oud en jonk mekaar vertrap om 'n foto te neem van die wit wonderland wat eensklaps verskyn het. Die hoogtepunt vir die menigte kinders was egter ongetwyfeld Kersvader se aankoms. Sy trekker kon skaars beweeg soos wat die opgewonde miertjies hom toegesak het om hulle pakkies te ontvang en nie een van die 137 kindertjies het met leë hande weggestap nie.
Die week was 'n klinkende sukses wat honderde inwoners en besoekers gelok het. Die organiseerders bedank graag alle rolspelers en betrokkenes, en 'n spesiale woord van dank aan die Hessequa-munisipaliteit vir hul ondersteuning.
IN SHORT
Residents of Still Bay could be forgiven for thinking that they were teleported to December in the North Pole last week, with snow falling and Father Christmas arriving at Friday night's street market. The fourth 'Christmas in July' week, which took place from 1 to 6 July, was a huge success for businesses and visitors alike. The organisers, Johannie Vermeulen and Adolf Botes, would like to thank all involved and especially the Hessequa Municipality.
Lees 'n vorige artikel hier: Christmas in July weereens 'n reuse sukses
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'