HEIDELBERG NUUS - Hessequa, en meer spesifiek Riversdal, rou oor die tragiese dood van vyf van sy jongmense wat Maandagoggend net buite Heidelberg op die N2 in 'n kop-aan-kop-botsing dood is.
Vier van die oorledenes is van Riversdal en een van Albertinia. Die Riversdallers is Errin Hendricks (18), Roxanne Alberts (24), Jaylin Prins (20) en Leeroy Willemse (34) terwyl Taslin Koert (18) van Albertinia afkomstig was.
Hulle was almal inisittendes in die Mazda wat glo in digte mis teen 'n Havl-motorvoertuig in 'n botsing betrokke was. Twee passassiers in albei voertuie het die ongeluk oorleef.
Die twee mense wat in die Haval was, is glo van Kaapstad, maar hul name is nog nie bekend gemaak nie.
Dis nog onduidelik wat die oorsaak van die botsing was, maar die digte mis die oggend rondom 02:00 het glo 'n rol gespeel.
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa, het in sy Faceboek-plasing geskryf: "Vanoggend het ons gemeenskap ’n ondenkbare verlies gely – vyf jong lewens is skielik en hartverskeurend van ons weggeneem. My hart bloei. Ek voel soos Daniël van ouds wat sy klere wil skeur terwyl ek God aanroep, want geen woorde kan hierdie smart verwoord nie."
Daar is nog geen begrafnisreëlings bekend gemaak nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’