HEIDELBERG NUUS - Danksy die flink optrede van 'n op en wakker jong polisieman is vier gewapende rowers verlede Woensdag, 12 Julie, op die N2 tussen Riversdal en Albertinia gearresteer nadat hulle 'n huiswinkel in Heidelberg beroof het.
Die plaaslike polisie is ongeveer 17:45 van 'n gewapende roof by 'n huiswinkel in Theo Adamsrylaan, Joe Slovo Park ingelig waartydens 'n onbekende bedrag geld gebuit is.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike polisie-woordvoerder, het konst. Keeno Fredericks met sy aankoms op die toneel al die ander polisiestasies, wat Swellendam, Riversdal, Albertinia en Mosselbaai ingesluit het, van die gewapende rooftog verwittig en is daar padblokkades op die N2 opgestel.
Die vier rowers, onderskeidelik 24, 27, 32 en 38 en almal burgers van Zimbabwe waarvan drie in Mfuleni en een in Gugulethu woonagtig is, het Dinsdag 18 Julie vlugtig in die plaaslike landdroshof vir aansoek om regsverteenwoordiging verskyn.
Die vier word aangekla van besigheidsroof.
Die saak is tot Dinsdag 25 Julie vir formele borgtogaansoek uitgestel
Hulle bly in aanhouding op Buffeljagsrivier.
Hulle word ook verbind met 'n soortgelyke klag wat glo vroeër dieselfde dag in Railton, Swellendam, plaasgevind het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’