RIVERSDAL NUUS - Bekommerde boere in die Riversdal-distrik kan nou weer gerus slaap nadat die Riversdal-polisie in 'n blitsoperasie twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie by 'n huis in Garcia Bosbou gekonfiskeer en twee verdagtes in hegtenis geneem het.
Lt.kol. Dalecia Isaacs, plaaslike polisiebevelvoerder, het aan Suid-Kaap Forum gesê die toegewydheid en vinnige optrede deur lede van die Riversdal-polisie het vrugte afgewerp toe hulle twee verdagtes by dié huis in besit van twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie betrap en hulle gearresteer het.
Toe dit rugbaar geword het dat die polisie dringend op soek was na twee ongelisensieerde wapens iewers in die distrik, het dit 'n onrustigheid in veral die boeregemeenskap veroorsaak.
Die opsporingsoperasie het op Donderdag 10 April omstreeks 12:45 begin toe polisielede op 'n wenk gereageer het rakende 'n ongelisensieerde vuurwapen by 'n woning in Garcia Bosbou net buite Riversdal.
'n Deursoeking van die perseel het gelei tot die ontdekking van 'n Browning-pistool.
Ná verdere ondersoek is die polisie na 'n tweede woning in dieselfde omgewing waar hulle 'n 9 mm Pietro Beretta-pistool en tien .38-rondes ammunisie gevind en gekonfiskeer het.
Twee jong mans, onderskeidelik 19 en 21 jaar oud, is op die toneel in hegtenis geneem. Hulle kon nie eienaarskap van die vuurwapens en ammunisie bewys nie en word nou aangekla van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Die verdagtes het op Maandag 14 April in die Riversdal-landdroshof verskyn, maar die saak is tot Woensdag 16 April uitgestel.
In 'n afsonderlike voorval op Saterdag 12 April omstreeks 22:10 het dieselfde polisielede tydens 'n misdaadvoorkomingspatrollie in Aalwynlaan op 'n verdagte man afgekom.
Tydens 'n deursoeking is twee rondes ammunisie by hom gevind. Die 24-jarige verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van ammunisie.
Hy bly in aanhouding hangende sy formele aanklag. Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die lede geloof vir hul waaksaamheid en toegewyde dienslewering.
Volgens 'n polisiewoordvoerder vorm hierdie arrestasies en konfiskerings deel van die provinsiale strategie om die besit en gebruik van onwettige vuurwapens te bekamp en sodoende veiligheid in gemeenskappe te verbeter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’