Update
HEIDELBERG NUUS - ’n Veldbrand in die berge noord van Heidelberg bly ’n ernstige bron van kommer nadat die Tuinroete Distriksmunisipaliteit (GRDM) Saterdagmiddag (10 Januarie) ’n Veldbrandwaarskuwing Vlak 4 uitgereik het.
Volgens die jongste verslag om 18:15 is die noordelike brandlyn steeds ontoeganklik weens die ruwe en hoë bergterrein.
Die suidelike brandlyn brand egter langs die laagste rant bo die bergvoetheuwels en in gevaarlike nabyheid aan verskeie plase.
Brandbestrydingspogings het deur die dag gefokus op die onderdrukking van aktiewe brandgebiede naby strukture, met spanne wat tans besig is om beperking in hierdie prioriteitsones te finaliseer.
Matige suid-oostelike winde het die operasie egter bemoeilik.
Lugondersteuning is strategies aangewend om ’n klein waterpompstasie asook ’n beskermde gebied in een van die klowe wat na ’n plaas aflei, te beskerm.
’n Skielike windvlaag uit die suidooste laatmiddag het veroorsaak dat die brand vinnig in die rigting van die Tradouwpas beweeg.
Die vuur is tans ongeveer 200 meter van die pas af, waar dit langs ’n smal rant op die oostelike berghelling brand.
Brandspanne is herposisioneer om te verseker dat die brand nie oor die pas versprei nie.
Die Tradouwpas bly tans oop, maar motoriste word versoek om waaksaam te wees.
Verskeie rolspelers is op die toneel, insluitend spanne van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, Southern Cape Fire Protection Association, CapeNature, Working on Fire, private grondeienaars, asook die Overberg Distriksmunisipaliteit wat by die pas ontplooi is.
Die publiek word versoek om enige veld- of bosbrand onmiddellik aan te meld by die GRDM se Noodoproepsentrum op 044 805 5071 of via WhatsApp by 081 709 5193.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’