Update Video
HEIDELBERG NUUS - ’n Veldbrand wat steeds in ontoeganklike bergagtige terrein naby Heidelberg woed, was Dinsdagoggend (13 Januarie) om 08:45 nog nie volledig onder beheer nie.
Die noordelike en noordwestelike brandflanke, insluitend die Tradouwpas-gebied, bly aktief.
Brandbestryders het egter daarin geslaag om die vuur suksesvol te beheer en te verhoed dat dit oor die Tradouwpas-pad versprei.
Die oostelike flank van die brand, langs die Grootvadersbosch Natuurreservaat, is ook steeds aktief.
’n Windverandering en sterk noordwestewinde het onderdrukkingspogings Maandagnag bemoeilik.
Die nagverskuiwing het egter deur die nag op die brandlyne gebly en intensief gewerk om die vuur wat weer teen die noordwestelike hange na die Tradouwpas beweeg het, te onderdruk.
Hierdie brandlyn is suksesvol gestuit en die vuur is gekeer om oor die pas te spring.
Vandag se operasionele fokus bly die beskerming van infrastruktuur.
Brandbestryders sal alle toeganklike brandlyne onderdruk en, indien toestande dit toelaat, ’n teenbrand binne die Grootvadersbosch Natuurreservaat oorweeg om infrastruktuur te beskerm.
Die Voorvalbestuurspan (Incident Management Team) sal toestande deurlopend evalueer.
Spanne wat tans op die grond werksaam is, sluit in die Garden Route Distriksmunisipaliteit, Southern Cape Fire Protection Association, CapeNature, Working on Fire, plaaslike grondeienaars, asook die Overberg Distriksmunisipaliteit by die Tradouwpas.
Die publiek word versoek om enige veld- of bosbrande onmiddellik aan te meld by die GRDM se noodoproepsentrum by 044 805 5071 of via WhatsApp by 081 709 5193.
Video: GRDM
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’