RIVERSDAL NUUS - "Uitdagend, maar pragtig, met die potensiaal om nog 'n gróte te word!"
Dít was die reaksie van vyf drawwers vanuit die Kaap wat onlangs die roete van die komende Ultra Trail Sleeping Beauty-bergwedloop (UTSB) kom beproef het.
Hulle was om meer as een rede skoon uitasem oor die ongerepte natuurskoon omsoom met sy unieke flora en oorvloedige voëllewe, vertel Tielman Roos, kommandoleier van Riversdal Voortrekkers en een van die groot dryfvere om die langverlore wandelroetes weer te herstel.
Lede van die plaaslike Voortrekkers het - en speel stééds - 'n leidende rol om die roetes oop te maak.
Die afgelope naweek het 15 Voortrekkers weer op die Rooiwaterspruit-gedeelte van die roete opknappingswerk gaan doen.
Die eerste UTSB word op Saterdag 5 April aangebied met al vier roetes wat begin en eindig by die Windhoek-gasteplaas neffens die Korentepoortdam en reg onder Sleeping Beauty-piek.
Slegs 250 drawwers sal op die vier roetes toegelaat word en dié getal is nou bereik.
Tielman het aan Suid-Kaap Forum gesê een van die Suid-Kaap se grootste bates is sy pragtige natuurskoon, in besonder die aangrypende Langeberge.
"Hierdie kosbare erfenis is tot nou toe nog deur relatief min besoekers - en selfs inwoners - ontdek, geniet en waardeer.
Maar, dit wil voorkom of die UTSB, wat aanstaande Saterdag hier gaan plaasvind, 'n reusebewusmaking van die prag van hierdie berge en die veld met sy rykdom van fynbos-plantegroei gaan skep."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’