Update
STILBAAI NUUS - Gaste het vroeg reeds die sysaal van die gemeenskapsentrum op Stilbaai volgepak met die bekendstelling van dr Marié Heese se jongste roman, Troebadoer.
Die geleentheid is deur Hessequa-munisipaliteit op Woensdag, 17 November aangebied.
Volgens die organiseerder, Gerda Papendorf is dit 'n moet-lees-boek waarop sy kwalik kan wag om haar hande te lê.
Marié is op 27 September 1942 in Kaapstad gebore en is die dogter van 'n ander baie bekende skrywer, Audrey Blignault.
Sy matrikuleer by Hoërskool Jan van Riebeeck in 1959 en behaal 'n BA-graad in staatsfilosofie en Engels in 1962 aan die Universiteit Stellenbosch.
In 1963 doen sy haar BA honneurs in Engels. Die titel van haar tesis vir haar doktorsgraad is Facilitating English reading competence through text analysis. Dit handel oor hoe om studente te help om beter te lees en te begryp wat hulle lees.
Marié is 'n groot voorstander van moedertaal-onderrig vir alle taalgroepe in Suid-Afrika, omdat dit beter met hulle sal gaan indien hulle in 'n taal onderrig word wat hulle behoorlik verstaan.
Deurwinter
Haar eerste werk, 'n Engelse gediggie het in Die Huisvrou verskyn toe sy 10 jaar oud was. Sy vertel dat sy eintlik as plaasvervanger begin skryf het. Haar ma was in die hospitaal na 'n motorongeluk en kon nie haar gereelde tydskrifrubriek volhou nie. Marié het toe ingespring en die rubriek behartig.
Haar geliefde tydverdrywe is lees, fynkookkuns en die afrigting van openbare redevoering. Sy en haar man, Chris verdeel hulle tyd tussen die Bosveld en Stilbaai en hulle is ook baie lief om te reis. Sy beywer haar vir die totstandkoming van Laerskool Melkhoutfontein se eie biblioteek.
In 2008 het die egpaar betrokke geraak by die projek om die Tuin-op-die-Brak, 'n inheemse fynbostuin in Stilbaai-Oos, te vestig. Dié tuin is in April 2016 ingewy.
Marié het al talle eerbewyse vir haar werk ontvang en in 2010 is sy met die Statebond Skrywersprys vir Afrika vereer. Dit was vir haar boek The Double Crown.
Gedurende haar loopbaan lewer sy nie net werke van letterkundige belang met Afrikaanse en Engelse romans nie, maar skryf en vertaal ook verskeie kinder- en jeugverhale en lewer bydraes tot blokboeke, bloemlesings en versamelbundels.
Sy besluit na 'n lang loopbaan om op te hou skryf, maar helaas, die grendeltyd slaan toe en sy verander van plan. Op 26 Maart 2020 begin sy skryf aan Troebadoer.
Louise Steytler, wat die boekbespreking gelei het, het dit meesterlik reggekry om Marié se denkwyse rondom die Troebadoer aan die gehoor oor te dra sonder om te veel te verklap van die verhaal. Om duidelikheid te gee, het Marié dele van die boek voorgelees en dan het sy verduidelik hoe sy daarby uitgekom het.
Louise Steytler (links) het die boekbespreking gelei. By haar is dr Marié Heese. Foto: Johan Victor
Vorige artikel: Heese stel nuwe boek bekend
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'