TUINROETE NUUS - Ten spyte van die stel wat hulle met 'n troubeplanner van Mosselbaai afgetrap het - en 'n verlies van meer as R90 000 - het die Pelser-bruidspaar verlede Sondag 21 Maart steeds 'n onvergeetlike troudag gevier.
Bibi en Bill Pelser van Pretoria is een van tientalle bruidspare wat ná bewering deur die plaaslike troubeplanner, Werner Gilroy, eienaar van Blue Lilies Wedding & Events, vir etlike duisende ingedoen is. Die gevolg: hulle moes basies hul hele troue binne dae van vooraf reël en wéér betaal.
Bibi was een van die eerste bruide wat George Herald en Mossel Bay Advertiser geskakel het ná dit sowat 'n week voor haar troudag aan die lig gekom het dat Gilroy bykans geen van die diensverskaffers betaal het nie.
"Van kleins af was my droom nog altyd om by die see te trou. Ons het verlede jaar vir Werner (Gilroy) gekontak en besluit om hom in diens te neem om ons troue in Groot-Brakrivier te reël. Ek het van al sy idees gehou en dit het geklink na presies wat ons wou gehad het. Ons het vir hom R95 000 oorbetaal om als te reël en te bespreek. Al wat ons self moes uitsorteer was die ringe, uitrustings en grimering," vertel Bibi.
Volgens die Pelsers kon hulle 'n week voor die groot dag sou aanbreek nie vir Gilroy in die hande kry nie. "Ons het gebel, maar sy foon het direk na die stemboodskap oorgegaan. Ons het hom ge-WhatsApp en talle kere probeer bel, maar ons kon hom glad nie in die hande kry nie. Dis toe dat ons begin bekommerd raak het."
Dit was eers nadat Bibi by verskeie van hul diensverskaffers moes hoor dat Gilroy hulle nie betaal het nie. "Ons moes ons die hele troubyeenkoms binne 'n paar dae van voor af reël en hoewel baie van die verskaffers ons aan die hand gevat het, moes ons nog steeds R85 000 opdok om ons troue met 88 gaste, álmal van Pretoria, te laat realiseer."
Maar die Pelsers se geval is glo slegs 'n druppel in die emmer en hoewel die getal bruide nog nie bevestig kon word nie, word daar geraam dat sowat 50 bruidspare reeds deur Gilroy ingeloop is.
Plasing op Facebook
Na verskeie bruide op Gilroy se Facebook-profiel kommentaar gelewer het en ook met verskeie koerante in verbinding getree het, het Gilroy op Woensdag 17 Maart 'n plasing op Blue Lilies Wedding & Events se Facebook-blad gemaak.
In die plasing noem hy dat sy maatskappy met onmiddellike effek sy deure sluit weens die gebeurde van die afgelope jaar en die verwoestende uitwerking wat die Covid-19-pandemie op die maatskappye in sy bedryf gehad het. Hy sê dat in sy pogings om sy besigheid lewensvatbaar te hou, het sy finansiële en sielkundige welstand daaronder gely.
"Ek wil dit onomwonde stel dat geen verskaffers voorafbetalings ontvang het vir dienste wat gelewer moes word nie, behalwe minimale deposito's. Ek wil dit ook duidelik stel dat geen van my onmiddellike of uitgebreide familielede aandeelhouers is van Blue Lilies Wedding & Events / C&W Weddings nie, of dat hulle insette gehad het in die bestuur of finansiële beplanning nie," sê Gilroy in sy plasing.
Voor Covid-19
Twee bruide wat verkies om anoniem te bly, sê hulle het lank voor Covid-19 reeds in Gilroy se strik getrap.
Een van hulle, 'n bruid van George, sê sy het aanvanklik baie van Gilroy se idees gehou en sy was regtig beïndruk met waarmee hy vorendag gekom het, maar toe haar troudag kom, het die pap behoorlik op die grond geval.
"Ons het reeds in 2018 derduisende rande verloor oor hom. Niks, maar niks wat ek wou gehad het, het hy gedoen nie. My troudag was 'n groot gemors. Dit was die aakligste dag van my lewe. Ek was twee ure laat, omdat ek probeer red het wat daar te redde was. Buiten dat die blomme glad nie was wat ek wou gehad het nie, was hulle oud. Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor die feit dat ek nooit weer my troudag sal kan oorhê nie en ek sal nooit vir Werner daarvoor vergewe nie," sê sy.
Ander het ook deurgeloop
So het 'n sakeman van Mosselbaai, Etienne Roos, en sy aanstaande, Lindi Kruger, ook onder Gilroy deurgeloop. Volgens hulle het hulle reeds sowat R54 000 aan Gilroy betaal, met het niks om te wys daarvoor nie. Linique Olivier en haar verloofde, Marthinus Barnard, ook van Mosselbaai, se troue is vir 12 Junie beplan en hulle het reeds R41 000 van die totale troukoste van R91 000 aan Gilroy oorbetaal. Petroné Bouwer en haar man van Knysna was van plan om op 26 Junie te trou nadat hulle Gilroy se dienste in November verlede jaar bekom het. Hulle het hom reeds 'n deposito van R40 000 betaal en vrees nou dat hulle nie hul geld of 'n troue sal sien nie.
Gilroy se regsverteenwoordiger, Dawie Bezuidenhout van DP Bezuidenhout Attorneys, het verlede Donderdagmiddag in 'n verklaring gesê hoewel hulle nog geen finansiële dokumente onder oë gehad het nie, bevestig hul kliënt dat daar tussen die verskeie bruidspaartjies en die bogenoemde maatskappy ooreenkomste aangegaan is waar deposito's aan die maatskappy betaal is.
Bezuidenhout het ook bevestig dat daar geen meer bates of enige geld deur die maatskappy besit word of gehou word nie en dat Gilroy as alleendirekteur die moontlikheid oorweeg om die maatskappy te likwideer.
Bibi Pelser en haar man, Bill, het aan Mossel Bay Advertiser gesê dat ten spyte van alles wat met hulle gebeur het, kon hulle steeds 'n onvergeetlike dag saam met hul vriende en familie spandeer.
Die Pelsers se troukoek was een van die items waarvoor Gilroy glo nie betaal het nie.
Die plasing wat Gilroy op Facebook gemaak het.
Lees meer hieroor in 'n Engelse berig hier.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'