STILBAAI NUUS - Die tweede skof van die wêreld se strafste rubberboot wedvaart het plaasgevind op 29 Desember van Mosselbaai tot in Stilbaai.
Dit is 'n afstand van 86 kilometer en hulle het verpligte stoppe by Vleesbaai en Gouritsmond gehad voordat hulle die laaste 43 kilometer aangepak het tot by Lappiesbaai.
Met hulle aankoms het die span wat tweede gelê het, Eben de Bod en Henko Nel, 'n glips sowat 100 meter van die strand af gehad en hulle boot het gerol.
Die twee het egter gespook en die boot uiteindelik weer aan die gang gekry om die skof te voltooi.
Met al die bote veilig by Lappiesbaai het die Koning van die Branders kompetisie net na 11:00 'n aanvang geneem en hier kon die groot groep toeskouers die spanne se vernuf aanskou.
Die spanne het 08:00 op 30 Desember vertrek van Stilbaai na Struisbaai en hierdie 161 kilometer afstand gaan hulle behoorlik toets.
Die wedvaart wat in Plettenbergbaai begin het en eindig in die Strand op Oujaarsdag strek oor 700 kilometer en daar gaan verseker baie seer lywe van die bote afklim by die eindpunt.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’