Update
STILBAAI NUUS - Die wêreld se strafste rubberbootwedvaart het op 28 Desember in Plettenbergbaai begin en 31 Desember in die Strand klaargemaak.
Op dag twee het die bote 'n afstand van 86 km van Mosselbaai tot in Stilbaai afgelê.
Die bote van Robertson Toyota/FPM Suppliers met Eben de Bod en Dévan Marais en Legend Logistics/SG Coal met Ruben Scholtz en Rynhardt Koekemoer het in 'n spannende eindpoging so te sê gelyk by Lappiesbaai op die eindpunt afgepyl.
Eben de Bod en Dévan Marais kon egter daarin slaag om eerste te eindig in 01:22:18.
Ruben Scholtz en Rynhardt Koekemoer was tweede in 01:22:22. Slegs vier sekondes na die wenners.
Stilbaai se Emile Steyl en Juan Meynhardt was derde in 01:25:50.
Daarna het die Koning van die Branders-wedrenne gevolg, maar na slegs 'n paar wedrenne is die rooi vlag gehys en dit is gekanselleer as gevolg van uiters slegte weersomstandighede.
Dinsdagoggend, 30 Desember, het vir ewe veel drama gesorg. Die bote was vroegoggend in die water en gereed vir die lang skof na Struisbaai toe die derde been sowat 'n halfuur voor die amptelike wegspring gekanselleer is.
Weereens het die weer die laaste sê gehad, maar hierdie keer het digte mis, veral rondom Witsand, dit te gevaarlik gemaak.
Die bote is toe per pad na Struisbaai waar 'n spesiale wedren gereël is om die 161 km wat verlore geraak het, op te maak.
Van die ondersteuningspanne was reeds op pad Struisbaai toe, toe hulle hoor hulle moet omdraai om die bote op te laai.
In Struisbaai het hulle 'n roete van 160 km afgelê, met vyf strandstoppe, om dit amper dieselfde te maak asof hulle van Stilbaai na Struisbaai gejaag het en weereens was Eben de Bod en Dévan Marais aan die wenkant.
Emile Steyl en Juan Meynhardt van Stilbaai het in 'n skaflike negende plek geëindig.
Eben de Bod en Dévan Marais het ook in die Koning van die Branders-wedrenne eerste geëindig met Albertinia Meubelvervoer se Johann Lodewyk en Sebastian Kotze slegs vyf sekondes na hulle.
Die uiteindelike wenner van die 2025 Trans Agulhas-wedvaart was Eben de Bod en Dévan Marais met hulle boot Robertson Toyota/FPM Suppliers in 'n baie goeie tyd van 06:22:58.
Albertinia Meubelvervoer se Johann Lodewyk en Sebastian Kotze was in die vyfde plek en Emile Steyl en Juan Meynhardt was 16de. Dit is 'n bewys dat plaaslike jaers nie vir die groot kanonne hoef terug te staan nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’