RIVERSDAL NUUS - "Dit is maklik om te praat oor die prestasie van 102-jarige ouderdom, maar dis nie maklik om so oud te word nie," sê tannie Naomi Stander met 'n glimlag.
Tannie Naomi, wat op 27 Februarie 1924 in Pretoria gebore is, vier hierdie maand haar 102de verjaarsdag.
Sy en haar oorlede man het 14 jaar gelede na Riversdal verhuis, waar sy tans 'n inwoner by Droom is.
Sy het haar hele loopbaan as sekretaresse gewerk en vertel dat haar 50-jarige huwelik een van die kosbaarste hoofstukke van haar lewe was.
Haar man is kort ná hul 50ste huweliksherdenking oorlede - 'n verlies wat steeds diep in haar hart lê.
Wanneer sy oor haar lewe terugdink, staan haar huwelik en gesinslewe vir haar die mooiste uit.
Tannie Naomi is die trotse ma van ses kinders, met ses kleinkinders en twee agterkleinkinders wat haar lewe verryk.
Hoewel sy nie van plan is om 'n groot viering op haar verjaarsdag te hou nie, bly familie en vriende vir haar kosbaar.
Hul teenwoordigheid en liefde beteken meer as enige groot partytjie.
Aan jonger geslagte sê sy eenvoudig: leef getrou, werk hard en koester jou geliefdes. Want, soos sy self bewys, word 'n lang lewe gebou op deursettingsvermoë, liefde en dankbaarheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’