Update
RIVERSDAL NUUS - Dit wil voorkom asof Hessequa die beste plek is om jou goue jare te geniet. Vra maar vir Mattie Pfaff wat Donderdag 6 Julie haar 90ste verjaarsdag gevier het.
Mattie Pfaff, 'n boorling van Riversdal uit die Vlakte-distrik, het nog baie lewenslus en sien kans vir enigiets. Sy voel dat sy alles wat sy wou doen die afgelope 90 jaar bereik het.
Sy was die enigste kind nadat haar jonger boetie op 4-jarige ouderdom weens komplikasies met sy blindederm oorlede is, aangesien dokters in daardie jare nog nie geweet het hoe om dit te hanteer nie.
Na skool het sy by 'n algemene handelaar gewerk en nie lank daarna het sy 'n pos by die sentrale as telefoniste gekry. Hier kan Mattie baie staaltjies vertel, so tipies van destyds se TV-program Nommer Asseblief.
"Mense het maar ingeluister in daardie jare. Daar was 'n bekende oom wat baie gehou het van inluister. Dié man se vrou het my eendag gebel en gesê haar man het gehoor van 'n korslose melktertresep wat ek vir iemand oor die foon gegee het. Dit het baie lekker geklink omdat hy nie hou van die kors nie, toe vra sy of ek asseblief die resep vir haar ook kan gee," vertel sy met 'n glimlag.
Mattie wou eers niks weet van kêrels op skool nie, maar haar man, Jan Pfaff, het nie moed opgegee nie. Hulle is uiteindelik in 1954 getroud toe sy 21 was, waarna sy haar pos as telefoniste bedank het.
Jan en Mattie het op Jakkalsfontein geboer, waar Mattie net so hard gewerk het en ook nie geglo het aan 'n huishulp nie. Uit die huwelik is drie seuns en twee dogters gebore wat haar baie besig gehou het.
Sy onthou spesifiek toe hulle almal op 'n ry mangelontsteking gehad het en sy beurte gemaak het om hulle mangels te laat uithaal. Dit was 'n groot uitdaging met al vyf van hulle wat siek was. Die egpaar is geseën met nege kleinkinders en sewe agterkleinkinders.
In 2003 koop hulle 'n huis in Tritonia Park, waarna Jan dieselfde jaar in die ouderdom van 74 aan 'n hartaanval oorlede is.
Na 50 jaar van getroude lewe, was dit maar eensaam vir Mattie sonder haar man. Dit was ook in hierdie tyd wat sy haar rug seergemaak het, deur alles self te probeer skuif in en om die huis. Van 'n operasie wil sy niks weet nie, want die risiko is 50/50 met die kans om verlam te wees indien hulle dit sou regmaak.
Buiten die rug wat partykeer moeilikheid gee, is Mattie selfversorgend en haar gesondheid is uitstekend. Sy hou haarself besig met allerhande stokperdjies soos konfyt kook, beet inlê, lees, brei en sy hou van herwinning. Sy is baie veiligheidsbewus en kook graag vir haarself 'n gesonde maaltyd. Die dae wat sy dorp toe gaan vir haar inkopies, maak sy 'n punt daarvan om by vriende in die ouetehuis te gaan kuier.
Haar bure, Andrew en Corrie van der Nest, het haar verras met ballonne op haar verjaarsdag. "Tritonia Park se mense kyk uit vir mekaar" sê sy. Mattie en Letitia Odendaal, ook 'n inwoner van Tritonia Park, is goeie vriende en ondersteun Letitia haar ook baie.
Wanneer jy vra wat die geheim is om op so 'n hoë ouderdom so vol lewe te wees, glimlag sy en sê, "Die grootste geheim is geduld, aanhou en uithou. Natuurlik 'n gesonde leefstyl ook en probeer altyd aan die gang bly en iets soek om jou hande mee besig te hou."
Mattie is die middag bederf deur vier van haar kinders en hul gade by Rusticana Gastehuis waar sy kon ontspan en lekker eet. As gevolg van gesondheidsredes kon een van die seuns, Danie Pfaff, dit ongelukkig nie maak nie.
Dis hier waar haar bure, Andrew en Corrie van der Nest, haar verras het met balonne op Mattie se verjaarsdag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’