STILBAAI NUUS - Skud daai strandsand van jou tone af, tooi ‘n handdoek om jou lyf en wandel sommer kaalvoet by die gemeenskapsaal in dié kusdorpie in!
Want dáár wag 23 talentvolle kunsskeppers van die Hessequa-kunsroete om jou te ontmoet en sommer net lekker te gesels tydens die vierde streektentoonstelling met die tema ‘Kuierkuns.’
Naas skilderye en sketse in akriel, olieverf, waterverf, potlood en steenkool, is daar vanjaar ook ‘n stewige aanbod van fotografie, keramiekkuns en beeldhouwerk.
Die veelbekroonde Dina Grobler en die talentvolle Sofia Diedricks wys wat uit en met die natuurlike elemente van die natuur ontgin kan word om veeldoelige keramiek-kunsprodukte te skep.
Alles gaan om die oog waarin skoonheid skuil. En die kameraklik; daai lens wat kreatiewe asem skep en betowering belig én verewig.
Die fotograwe Willie Scoombee en Josef Steyn kom wys van hul beste foto’s by die fees.
Die vrolike affêre word Vrydagaand halfsewe met ‘n skemergeselligheid gevier. Bespreek jou plek betyds by Verandah in Stilbaai en die Geel Mossie in Riversdal.
Die dragkode is wel semi-formeel, maar Marisa de Lange, die organiseerder, verseker jy sal nie uitgesmyt word as jy net in jou vel daar opdaag nie!
Dié kunstentoonstelling duur van 6 tot 8 Desember. Vrydag en Saterdag van 10:00 tot 18:00; Sondag van 10:00 tot 13:00. Die toegang is gratis.
Die kunstenaars (in alfabetiese volgorde) is:
- Brenda Thomas
- Bronwen Schalkwyk
- Danie Cronjé
- Dina Grober
- Elize Bruwer
- Francois Gunter
- Hilé du Plessis
- Jetske Fouché
- Jo Fensham
- Josef Steyn
- Karlien van Zyl
- Louis de Kock
- Louise Kluyts
- Louwena Kotzé
- Marisa de Lange
- Marilise Lombard
- Mariete Steenekamp
- Niki Saunders
- Rentia Roodt
- Sonja Margerison
- Trudie Schoombee
- Willie Schoombee
- Zelda Truter
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’