SLANGRIVIER - Een van dié dorp se talentvolste potspelspelers, Devandré Phillips, benodig dringend finansiële hulp om hom in staat te stel om op die hoogste vlak deel te neem.
Devandré, 'n 15-jarige gr. 9-leerder aan Slangrivier Primêr, is gekies om vanaf 20 tot 28 Oktober Suid-Afrika tydens die Wêreldpotspelvereniging se o. 18-swartbalkampioenskappe te verteenwoordig.
Die toernooi vind by die Thistle Hotel Heathrow in Engeland plaas.
Volgens Devandré se pa, David Philander, ook 'n kranige potspelspeler, speel Devandré al vir agt jaar. Hy speel gereeld in die seniorspan vir die plaaslike Tiger Shooters-potspelklub. Philander het self besluit om Devandré vanjaar by die Westelike Provinsie se o. 18-swartbalproewe in te skryf, waar hy toe ná skitterende vertonings gekies is om sy land later die jaar te verteenwoordig.
Daar is egter een groot uitdaging: die astronomiese onkostes wat Devandré se drome moontlik kan verpletter.
Philander sê die totale onkostes beloop R50 000. Die familie en hul vriende is reeds besig om funksies daarvoor te hou, maar soos die ekonomiese omstandighede tans is, sal dit nie genoegsaam wees om die onkostes te dek nie.
Derhalwe doen Philander 'n dringende beroep op instansies en individuele om sy seun te ondersteun sodat hy sy drome ten volle kan verwesenlik. Hy kan by 076 193 2818 geskakel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’