Update
HESSEQUA NUUS - Die 2019/2020 konsepbegroting is Woensdag 29 Mei na die vereiste openbare deelnameprosesse voorgelê en deur die raad goedgekeur.
"Die ekonomie is voorwaar baie taai," het Grant Riddles, uitvoerende burgemeester tydens die voorlegging gesê. "Dit is die rede waarom ons meer kreatief en produktief moet dink om kostes binne perke te hou."
Die goeie nuus is dat infrastruktuur opgradeer en uitgebrei gaan word. Altesaam R110 409 miljoen word vir kapitaalprojekte vir 2019/20 begroot, wat die opgradering van rioolstelsels in Riversdal (R21 110 miljoen oor 3 jaar) en Stilbaai (R14 miljoen) insluit. Daar is ook R22 035 miljoen opsy gesit vir die opgradering van elektrisiteitsdienste, wat onder meer vir straatligte, telemetrie, substasies en ondergrondse kraglyne en kabels aangewend sal word. Vir die opgradering van paaie en stormwaterverwante projekte word R12,1 miljoen begroot.
Sportfasiliteite in Slangrivier en Melkhoutfontein sal oor die volgende drie jaar met befondsing van die munisipale infrastruktuur-toekenning (MIG) en eie fondse opgradeer word.
"Dit is 'n prioriteit om 'n volledige brandweerdiens te skep ten einde reaksietyd so kort moontlik te maak en daarom word weer begroot vir 'n nuwe brandweerwa, wat befonds sal word deur die munisipaliteit en provinsiale regering."
Nog goeie nuus is dat deernishulp van kategorie A tot R3 500 en kategorie B tot R4 000 verhoog word. "Hierdeur word meer arm huishoudings deur die munisipaliteit gehelp om basiese dienste te kan bekostig."
Minder goeie nuus is stygende eiendomsbelasting en tariefverhogings vir dienste. "Alhoewel die munisipaliteit nie 'n winsgewende organisasie is nie, moet ons steeds die finansiële bestuur op gesonde beginsels skoei en met die stygende inflasie kan ons nie anders as om die koste van dienslewering te verhoog nie."
Eiendomsbelasting styg soos volg: Residensieel, besighede, landelike gebiede en leë erwe styg met 9%, terwyl die belasting op staatseiendom met 6,63% toeneem. Tariefverhogings hou dalk 'n paar skokke in, veral die elektrisiteitstarief wat gemiddeld met 13,7% styg. "Elektrisiteitspryse word eers deur Nersa goedgekeur voor dit toegepas word," het Riddles gesê. Vullisverwydering styg met 15%, die waterheffing met 12%, riool met 9% en diverse heffings met tussen 6% en 8%.
IN SHORT
The Hessequa Municipality tabled its 2019/2020 budget on Wednesday 29 May. It makes provision for upgrading of infrastructure, but also for an increase in property tax and tariff hikes.
Rdl. Grant Riddles (voor, in die middel), onderburgemeester Johannes Hartnick (vierde van links), speaker Andrew Stroebel (voor, tweede van links) en munisipale bestuurder Johan Jacobs (heel regs) saam met raad- en koalisielede na die begroting op 29 Mei goedgekeur is.
Lees 'n vorige artikel hier: Begroting gee en neem
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'