STILBAAI NUUS - Die plaaslike tak van Helpende Hand het Woensdag 25 Mei 'n swaaibank aan Huis Stilbaai geskenk.
Volgens Marlise Labuschagne, Wes-Kaapse assistent streekorganiseerder is die doel om bejaarde inwoners te laat beweeg.
"Die beweging help om die kristalle in die oorgang in lyn te kry, wat dan weer help met hulle balans. Dit is veral goed vir mense met dementia en ook Alzheimer's," het sy gesê.
Hieda Goldberg van Helpende Hand Stilbaai sê dat hulle lootjies verkoop het vir 'n skildery van kokerbome, wat die skilder Louwina Kotzé, aan hulle geskenk het.
Die opbrengs was net genoeg om die bankie te laat maak. Matthys du Preez van Riversdal was die skrynwerker en Hieda sê dit is presies wat sy in gedagte gehad het toe sy hom gevra het om die bankie te maak.
Dit is deel van Helpende Hand se Senior Mind Move-program en hulle wil graag hê dat elke tak in die Wes-Kaap so 'n bankie aan 'n ouetehuis skenk.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'