Update
RIVERSDAL NUUS - Storm Smorenburg (18), geliefde matriekleerder van die Hoër Landbouskool Oakdale se opgewekte stem sal nooit weer in dié skool se gange gehoor word nie.
"Storm was Donderdag 22 Augustus op die skoolterrein in 'n ongeluk betrokke toe hy agter aan 'n bakkie vasgehou het terwyl hy op sy skaatsplank gery het," het mnr. André Latsky, skoolhoof, Maandagoggend in 'n brief aan ouers bekend gemaak.
Hy is na Riversdal-hospitaal geneem, maar onmiddellik na Life Bay View-privaathospitaal op Mosselbaai oorgeplaas.
Volgens Latsky se brief het die hospitaal sy ouers Vrydagmiddag ingelig dat hy weens uitgebreide hoofbeserings en geweldige bloeding, breindood verklaar word. "Daar is besluit om Storm se organe te skenk. 'n Mediese span van Kaapstad het Saterdagoggend hier aangekom en na die prosedure afgehandel is, is die lewensondersteunende toerusting afgeskakel."
Die seun was enig in sy soort. "Storm was Storm," sê Lizinda Pretorius, 'n vriendin van sy ma Lisa wat sportnaweke saam met haar in die sportklubkombuis gehelp het. "Ek het hom die afgelope jare goed leer ken. 'n Lang seun, 'n drukkiekind, liefdevol en vol passie vir wat hy gedoen het - 'n lifesaver wat langs die rugbyveld noodhulp gedoen het. Met sy skewe glimlaggie wou hy almal net help. Hy was fantasties in die hele manier hoe hy mense met respek en liefde hanteer het. Hy was geliefd en het vir amal omgegee."
Storm het gereeld by die kombuis kom inloer wanneer Lisa daar help. "Hy was lief vir sy kos en ons in die kombuis het gesorg dat die magie vol bly."
Soos al die seuns was hy ook 'n sportman. "Maar hy was iets buite die boks - wat hy ook al gedoen het, het hy ekstreem gedoen." Hy en sy ma was ook baie na aan mekaar. Hulle was beste maats en het dikwels iets in die natuur saam gedoen.
"Storm se fratsongeluk laat 'n mens net weer besef hoe baie mense omgee - van die hospitaalpersoneel hier, tot die By Grace-ambulansdiens wat hom van Riversdal-ongevalle na Life Bay View geneem het, die mediese personeel, almal."
Lisa het die lede van die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning. "Wat 'n ongelooflike gemeenskap. Storm was love and he cared for everyone," het sy afgesluit.
Volgens Latsky het die skool, in samewerking met die Wes-Kaap Onderwys-departement (WKOD) die leerders met berading ondersteun. "Ons besef dat dit veral vir ons graad 12-leerders 'n hartseer en moeilike ervaring is, maar beslis ook vir die res van die leerders, personeel en ouergemeenskap."
'n Laaste huldeblyk sal Vrydag 30 Augustus om 12:00 op die A-veld van die skoolterrein gehou word.
Storm het tydens die 2018-somervakansie as lewensredder by Lappiesbaaistrand op Stilbaai diens gedoen.
Storm en sy ma, Lisa, was baie na aan mekaar en het graag saam tyd in die natuur deurgebring.
Lees vorige artikels:
- Huldeblyk vir matriekseun Vrydag
- Oakdale-leerder oorlede
- Min hoop vir Oakdale-leerder
- Oakdale-leerder ernstig beseer
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'