STILBAAI NUUS - Hoewel die situasie in die Midde-Ooste tans op 'n mespunt en baie vloeibaar is, gaan die lewe aan soos normaal.
Suid-Kaap Forum het met vier verskillende mense gesels en hier is hulle stories.
Natasha Kellies
Natasha is van Riversdal en sy het Woensdag 25 Februarie in die Verenigde Arabiese Emirate aangekom vir 'n kort vakansie en sou Sondag 8 Maart weer na Suid-Afrika terugkeer.
Die lughawe is egter gesluit nadat Iran hommeltuie en missiele op verskeie state afgevuur het in vergelding vir Amerikaanse en Israeliese aanvalle.
Die aanvanklike aanvalle was ontstellend, en om die ontploffings van die onderskeppings te hoor, was vreesaanjaend, het Kellies gesê.
Die VAE se lugverdedigingsreaksie was egter uiters doeltreffend, wat gerusstelling gebring het.
Sy voel veilig en die daaglikse lewe gaan normaal voort.
Teen Dinsdagoggend, 3 Maart, het Dubai Internasionale Lughawe begin om beperkte vlugbedrywighede te hervat, hoewel dienste steeds beperk is en onder-hewig is aan voortgesette lugruim- en sekuriteitsbeoordelings.
Ricard Webb
Richard en Jill woon in Stilbaai, maar hulle seun werk in die Dubai-kantoor van 'n Nieu-Seelandse beleggingsmaatskappy.
Die maatskappy het seker al 'n jaar gelede planne in plek gesit indien sy werknemers op kort kennisgewing uit Dubai ontruim moet word.
Hoewel hulle die situasie daagliks dophou is daar nog nie planne om te ontruim nie.
Hulle seun, Colin, ry nog daagliks werk toe en die lewe gaan normaal voort.
Hulle is egter gereed om onmiddellik aan te pas indien die situasie sodanig versleg dat hulle moet ontruim.
Colin het vir sy pa 'n video gestuur waar hulle op die woonstel se balkon staan en kyk hoe 'n missiel deur Dubai se lugverdedigingstelsel afgeskiet word.
Die maatskappy waarvoor Colin werk het 'n vliegtuig op gereedheidsgrondslag en sal al die buitelandse werknemers en hulle gesinne onmiddellik uit die gevaarsone verwyder indien nodig.
Dit gee darem 'n bietjie gerusstelling, maar soos enige ouer is Richard en Jill bekommerd oor die gesin se veiligheid.
Al Colin se boodskappe is baie positief en dit gee ook gemoedsrus.
Lara Kotzé
Lara se suster, Louise Kotzé Hussein, 'n kreatiewe kunsdirekteur vir 'n Chinese maatskappy, is met 'n Egiptiese prokureur getroud en hulle woon sowat 'n halfuur se ry buite Dubai.
Albei werk normaalweg in Dubai, maar nou tydens die krisis werk hulle vir veiligheid van die huis af.
Louise sê die lewe gaan normaal voort, maar hulle tasse staan gepak as hulle skielik moet ontruim.
Sy sê hulle is maar bang, veral as jy die bomgeluide hoor.
Hanelie Grewe
Hanelie se dogter is 'n onderwyseres in Dubai. Sy woon in Sharda, buite Dubai, en daar gaan die lewe normaal voort.
Vir veiligheidsredes gee sy klas van die huis af deur middel van afstandonderrig, maar haar peetouers kuier tans by haar en hulle lê luilekker op die strand of baljaar in die swembad.
Indien hulle nie op hulle bestemde tyd kan terugvlieg Suid-Afrika toe nie word hulle gratis by 'n hotel ingeboek totdat hulle kan vlieg.
Die regering hou almal met behulp van WhatsApp-boodskappe op hoogte van die situasie en daar is sirenes indien hulle onmiddellik binnenshuis moet gaan.
Kom ons bid dat almal veilig sal bly en dat die konflik gou iets van die verlede sal wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’