STILBAAI NUUS - Emma en Chris Rossouw het beplan vir 'n maatjie vir hulle tweejarige dogter, Leah.
Met 'n skok het hulle agtergekom dat daar nie net een nie, maar drie maatjies op pad is en al drie is dogtertjies. Die skok het egter baie vinnig in opgewondenheid verander.
Met die eerste sonar op agt weke kon hulle 'n tweeling sien. Op 12 weke was dit skielik 'n drieling. Twee van hulle, Emily en Elsie, het 'n plasenta gedeel en is dus identies. Caroline was op haar eie en sy het natuurlik 'n klein bietjie vinniger gegroei.
Stilbaai is bietjie meer as 90 km van Mosselbaai, waar die hospitaal is en die dokters was bang vir komplikasies. Hulle het Emma dus op 28 weke opgeneem en die drietjies is op 27 Januarie, op 33 weke, met 'n keisersnee in die lewe gebring. Daarna het ma en dogters nog tot Sondag 22 Februarie in die hospitaal gebly voordat hulle kon huis toe gaan.
Daar is nie 'n geskiedenis van drielinge in hulle familie nie, daar was een 'n hele klomp geslagte gelede en daar is wel tweelinge, maar hierdie was 'n groot verrassing. Vrydag 27 Februarie was hulle al 'n hele maand oud en behalwe vir min slaap is hulle 'n absolute vreugde.
Volgens Life Bay View Hospitaal was hierdie hulle heel eerste drieling en hulle is natuurlik net so opgewonde.
Emma se man, Chris, het sy eie besigheid en werk nogal gereeld weg van die huis af, maar sy het gelukkig 'n baie goeie ondersteuningsbasis in Stilbaai met haar ma en ander familie wat help waar hulle kan. Emma self werk van die huis af, maar sy sê dit is 'n absolute malhuis.
Vir hulle is hierdie 'n groot vreugde en hulle geniet die tyd saam, want een van die dae is hulle yslik groot.
Met Suid-Kaap Forum se besoek aan die gesin was die drietjies tjoepstil, maar dit is seker maar net omdat hulle goeie maniere het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’