Update
STILBAAI NUUS - Hessequa se kunsgemeenskap treur ná die tragiese dood van die Stilbaai-boorling Joshua Margerison (24).
Hy was die jongste seun van die kunstenaarspaar Ian en Sonja Margerison. Hulle is verpletter deur hul seun se afsterwe.
Joshua was verlede Donderdagoggend, 5 Oktober, op die Stormsrivierpad in 'n botsing reg van voor teen 'n vragmotor betrokke. Hy is op slag dood.
Joshua het megatroniese ingenieurswese aan die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha in die Oos-Kaap studeer. In 2021 is hy een van enkele studente van alle universiteite wat Golden Key International Society-sertifisering verwerf het.
Slegs 10% van studente wat uitsonderlike prestasies in hul onderskeie vakgebiede behaal, kry hierdie onderskeiding.
Tydens sy studies was hy by talle internskappe in Suid-Afrika, Engeland en Duitsland betrokke. Hy het veral uitgeblink in ontwerp, projek- en produksiebestuur en masjien-intelligensie.
Joshua se lewensleuse was: "Ek glo hoe meer 'n mens weet, besef jy eintlik hoe min jy werklik weet. Die inwin van kennis hou nooit op nie. Daarom is daar altyd ontwikkeling."
Sy ouer broer, Michael (27), wat in Manchester, Engeland, woon en werk, het in die land aangekom om sy ouers te ondersteun en die begrafnis by te woon.
Die Margerison-gesin is in rou gedompel en vra dat hul privaatheid in hierdie moeilike tyd gerespekteer sal word.
‘n Gedenkdiens word Saterdag 14 Oktober om 11:00 by die NG kerk in Kerkstraat 14, Stilbaai, vir Joshua gehou.
Joshua en Sonja vier Ian se sewentigste verjaarsdag in 2016.
Sonja is veral bekend om haar betrokkenheid by die gemeenskap en haar talle uitreikprojekte en muurskilderkuns in Melkhoutfontein en omgewing. Haar solo-uitstalling met die titel Brit en Boerenooi, wat 'n uitbundige, kleurryke viering van die lente en fynbos sou wees, sou 6 Oktober in Stilbaai open.
Sonja het 'n paar weke gelede 'n skildery met die titel 'n Oomblik in tyd gemaak. Daaruit het haar gedig, Wens die tyd staan stil gespruit. Sy dra dit aan haar man en twee seuns op.
Suid-Kaap Forum plaas dit hier in deernis met die gebroke gesin.
Wens tyd staan stil
Liefde nuutgevonde,
Nuwe ervaring: O, só opgewonde!
Adrenalien vloei... en... my hart bloei!
'n Liefde so sterk; sal ons ooit weet hoe die Vader dit bewerk?
Terwyl die kleinding groot-oog, uitdagend pappa roer!
Knipoog pa, en wees verseker, hy's 'n boer.
"Met die jare kom wysheid, tesame ook die grysheid," het oupa altyd gesê!
Terwyl ons almal saam bakkie op die bed lê.
Die landerye strek geskilder in goud en groen.
Soos 'n skildery wat verander met elke seisoen,
Dit speel in my gedagtegang...
Lê soos 'n palet van omgee, liefde en laaank-verlang!
Moet ons realiteit in die oë staar? In 'n wêreld van kommersialiteit, besig wees... en geen tyd?
Dit is nooit te laat nie... Vat my hand; ons kan saam die tyd laat stilstaan.
Saamweestyd... Speeltyd... Koestertyd... Geselstyd... Storietyd... Slaaptyd!
Wens tyd staan stil, my kind!
In 'n oogwink is die hede die verlede.
In 'n wêreld - van liefde en haat – kom spyt altyd te laat.
In 'n lewe van geen tyd, besigheid en rou...
In dié tyd... juis nou!
Visvangtyd... Saamweestyd... Koestertyd...Herinnering-bou-tyd!
- O, my kind! Wens die tyd staan stil -
Joshua Luke Margerison: 6 Augustus 1999 tot 5 Oktober 2023. By hierdie foto op die begrafnisaankondiging op sosiale media staan: "I'm coming home!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’