STILBAAI NUUS - Stilbaai se topsakelui is Donderdagaand, 20 Mei tydens die Stilbaai-sakekamer se Prestige Toekenningsaand by die Privelistea-landgoed in Jongensfontein vereer.
'n Spesiale voorsitterstrofee as eerbewys aan iemand wie se durf en deursettings-vermoë, ondanks terugslae 'n voorbeeld vir almal is, is ook vanjaar vir die eerste keer toegeken.
Magda Niemand van Lilliput het die toekenning ingepalm. Rachel Wall, voorsitter van die sakekamer het Niemand geloof daarvoor dat sy ondanks 'n kanker-doodsvonnis die lewe gekies het.
Niemand is in 2002 met borskanker gediagnoseer en in 2007 net 24 maande gegee om te leef. Pleks om vir die dood te sit en wag, het sy haar werk by Badisa bedank en eerder gaan toer.
In 2011 koop sy Cupz, wat sy ná drie jaar weens gesondheidsprobleme moes verkoop. In 2014 koop sy Lilliput en daarna ook 'n viswinkel wat sy 'n jaar lank bedryf voor sy dit verkoop.
"Jy is 'n inspirasie vir ons almal, nie net in terme van jou liefde vir die lewe en vermoë om aan te gaan met soveel ywer ten spyte van jou gesondheidsprobleme nie. Jy is ook vir ons 'n voorbeeld van 'n uitstekende sakevrou wat elke geleentheid gebruik om 'n verskil te maak. Ons salueer jou," het Wall gesê.
Te oordeel na die 152 gaste se geesdriftige toejuiging van die wenners toegejuig, het die elektroniese stemproses gewerk en het die gemeenskap die regte keuses gemaak.
Nicky Franklin (verteenwoordiger van Kasselshoop). Foto’s: Elsa Wessels
Wenners
Die gewilde restaurant, Dave's Kitchen het met die louere weggestap in die gasvryheidsbedryf, terwyl OK Foods die kleinhandel-toekenning en Car Care Clinic die dienste-afdeling gewen het. In die afdeling vir gesondheid en skoonheid is The Skin Zone Salon 'n waardige wenner, terwyl die Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum en Kasselshoop Kaas die onderskeie wenners in die afdelings vir liefdadigheid/gemeenskapsdienste en vervaardiging/konstruksie/boudienste is. André van der Merwe van Stilbaai Vodacom is as die topentrepreneur vereer.
Die Weskus-seremoniemeester Alan Hughes van kykNET se OppieStoep-faam, het 'n gemoedelike atmosfeer met sy kwinkslae en staaltjies geskep. Ook die hoofspreker, André Diederichs van die Afrikaanse Handelsinstituut se insiggewende beleggingspraatjie, deurspek met komiese afwisseling, het groot byval gevind.
Die wisseltrofee wenners van die verskillende kategorieë is agter, van links: Tanya Schreuder (The Skin Zone), Jacques Hefer (Car Care Clinic), Magda Niemand (Lilliput), André van der Merwe (Stilbaai Vodacom), Izak Venter (liefdadigheidsorganisasie van die jaar) en Corné von Mollendorf (OK Foods). Voor: Dave en Mariella Kairuz (Dave’s Kitchen) en Natasha von Mollendorf (OK Foods).
Die volledige lys wenners is:
- Liefdadigheid en gemeenskapsdienste: 1. Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum; 2. Badisa
- Voedsel en drank, reis en toerisme, verblyf en vermaaklikheid: 1. Dave's Kitchen; 2. Coffee & Cream; 3. The Stables
- Gesondheid en skoonheid: 1. The Skin Zone; 2. Blombos Apteek; 3. Fynbos Apteek
- Vervaardiging, konstruksie en boudienste: 1. Kasselshoop Kaas; 2. Steyns Hardeware; 3. Inverroche Distillery
- Kleinhandel: 1. OK Foods; 2. Allegaartjie; 3. Stilbaai Slaghuis
- Dienste-ondernemings: 1. Car Care Clinic; 2. Pakketmoles; 3. Boshoff Visser finansiële dienste
- Entrepreneurs: 1. André van der Merwe, Stilbaai Vodacom; 2. Ben Vorster; 3. Johannie Vermeulen
- Voorsitterstrofee: Magda Niemand, Lilliput
Groei
Die raakvatvrou agter die sakekamer se suksesstorie, Wall, het die fenomenale groei van dié "baba" tot volwaardige tiener aan Stilbaaiers wat groot droom en dóén toegeskryf.
"Dié Prestige Toekenningsaand is voorwaar 'n prestasie as in ag geneem word dat die prestasietoekenningsproses eers in 2018 geformuleer is om plaaslike ondernemings vir uitsonderlike diens te beloon.
Verlede jaar se plegtigheid is weens die Covid-inperkingsmaatreëls gekanselleer, maar vanjaar kon 'n rekordgetal van 142 ondernemings in sewe afdelings meeding. Die elektroniese stemproses is ook aangepas om drie stemme per kategorie toe te laat," het sy verduidelik.
"Betreffende die aantal stemme, is daar vanjaar 2 969 stemme ontvang teenoor 1 100 in 2019. Dit beteken dat meer as 62 000 stemme vanjaar deur die proses in ag geneem is om die wenners te bepaal teenoor 'n gemiddelde van 7 700 in 2019.
"Ek wil afsluit met Magda se woorde: 'Ek kies lewe tot ek doodgaan!'"
Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer en Magda Niemand van Lilliput wat die eerste ontvanger van die nuwe Voorsitterstrofee is.
Weskus se “stout’ seremoniemeester, Alan Hughes van kykNET se OppieStoep-faam wat die gaste met sy kwinkslae aan die lag gehou het.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'