Update
STILBAAI NUUS - Stilbaai-sakekamer het Donderdagaand, 24 Augustus, 'n baie geslaagde netwerkaand by die Stilbaai-gholfklub gehou.
Hulle het Timo Dinkelman as gasspreker gehad om die lede teenwoordig meer te vertel van digitale bemarking.
Timo se tema was "Groei jou besigheid aanlyn" en indien enigiemand na dese nog wegskram van digitale bemarking is daar gewis rooi ligte wat flikker.
Hy het dit uit die staanspoor duidelik gemaak aan die meer as honderd mense teenwoordig dat hy nie gaan praat oor kunsmatige intelligensie nie, maar wel oor digitale bemarking.
Volgens Timo is Suid-Afrika ver agter heelwat ander ontwikkelende lande en besighede kan nie meer uitstel nie.
Timo en sy gesin het aan die begin van 2023 na Stilbaai verhuis vanaf Hartebeespoort en die Sondagaand wou hy wegneemetes aanlyn bestel. Nuut in die dorp het hy sommer tegnologie ingespan om te soek vir iets lekkers en tot sy skok kon hy niks kry nie. Uiteinde was toe sommer vis en skyfies.
Hy het navorsing gaan doen en daar is 10 000 Stilbaaiers wat aanlyn in Stilbaai soek na iets. Mense gaan kyk byvoorbeeld na die beurtkragskedule. Dit laat hulle besef dat hulle gas nodig het en so kan die lys groei en groei.
Digitale bemarking het twee prioriteite. Jy genereer 'n nuwe vraag na jou produk en tweedens vang jy die bestaande vraag.
Timo maan egter dat jy nie jou besigheid gaan regmaak met digitale bemarking nie, maar jy gaan die vraag na jou produk versterk.
Het jy 'n webblad nodig? Verseker gaan dit van groot nut wees, meer so indien jou kliëntebasis landwyd is. Dit is ook goed vir vertroue in jou en jou besigheid.
Indien jy meer te wete wil kom kan jy gerus vir Timo Dinkelman skakel by 079 580 0551 of stuur 'n epos na timo@prebodigital.co.za
Sakekamer-kwessies
Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer, het van die geleentheid gebruik gemaak om lede kortliks in te lig met watter kwessies die sakekamer tans besig is.
Die nuwe sakemodel se naam is gereserveer en hulle is tans besig om die Stilbaai Besigheidsforum te registreer. 'n Strategiese werksessie, om 'n drie jaar strategie te bepaal, sal eersdaags gehou word.
Brugmark
By die Brugmark is hulle besig met die beplanning vir die oprigting van drie geboude stalletjies en die doelwit is om die bouwerk afgehandel te kry binne die volgende twee maande. Die dranklisensie is uitgereik onderhewig aan hierdie kwessie.
Die Brugmark-subkomitee is hard besig met die Desember voorbereidings en daar is alreeds aansoeke vir 50 stalletjies.
Die sakekamer is ook besig om 'n moontlike WhatsApp-groep te stig met die uitsluitlike doel om as platform te dien vir sekuriteitkwessies in die sentrale besigheidsdistrik wes en oos.
Rachel noem ook dat hulle vergaderings geskeduleer het met munisipale leierskap met die doel om 'n risiko-reaksiestrategie en besigheidskontinuïteitsplanne ten opsigte van fase 8 en totale ineenstorting van die kragnetwerk daar te stel.
Skulpiesbaai
Die sakekamer is ook besig om planne op te stel vir die herstel van die Skulpiesbaai- braaiplekke. Dit is destyds opgerig met borgskappe van besighede en individue en van hulle het restourasiewerk nodig.
Werksoekers
Laastens het die sakekamer 'n aksieplan om die werksoekers op die hoek van Hoofweg-Wes en Voortrekkerstraat te hanteer aan die GPF voorgelê.
Die beplanning is om eersdaags 'n werksessie te hou om insette van alle rolspelers te verkry en verantwoordelikhede uit te stippel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’