STILBAAI NUUS - Die agtste jaarlikse Stilbaai Kayak Classic-hengelkompetisie vind die naweek van 27 Februarie tot 1 Maart in Stilbaai plaas en beloof weer 'n opwindende sport- en gesinsgeleentheid vir hengelaars van heinde en verre.
Hengelaars kan uitsien na 'n naweek van lekker visvang, goeie tye en epiese pryse.
Deelnemers kan 'n mededingende, dog prettige naweek verwag by 'n goed georganiseerde kompetisie met 'n puntestelsel waar punte vir verskillende visspesies toegeken word.
Die seehengel vind vanaf die Stilbaai-hawe plaas, terwyl rivierhengelaars enige geskikte toegangspunt langs die rivier kan gebruik.
'n Groot trekpleister vanjaar is die gelukstrekking waar 'n Vortex-kajak gewen kan word.
Die eerste 50 betaalde inskrywings ontvang elk twee inskrywings vir dié trekking - 'n ekstra aansporing om vroeg in te skryf.
Registrasie vind Vrydagmiddag, 27 Februarie, vanaf 15:00 tot 18:30 by die Stilfishing winkel in Hoofweg-Wes plaas.
Kontak Morné D'Emiljo by 082 446 5701 vir enige navrae.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’