Update
STILBAAI NUUS - Johan Victor, 'n joernalis van Suid-Kaap Forum, sterk aan in die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai nadat hy verlede Donderdag bewusteloos op die rotse naby Geelkrans aangetref is.
Victor is verlede Donderdagmiddag, 3 Julie, as vermis aangemeld nadat hy vermoedelik alleen na die kusgebied van Geelkrans gegaan het.
'n Grootskaalse soektog in samewerking met die SAPD, NSRI, Stilbaai-buurtwag en talle vrywilligers is van stapel gestuur.
Ongelukkig is die soektog na sowat 'n uur weens gevaarlike weerstoestande gestaak.
Een toegewyde vrywilliger het egter geweier om moed op te gee en het die soektog op eie houtjie voortgesit.
Hierdie daad van vasberadenheid het vrugte afgewerp toe hy Victor later bewusteloos op die rotse gevind het.
Volgens sy vrou, Laverne Victor, is Johan reeds uit die intensiewesorgeenheid ontslaan en herstel tans in 'n algemene saal en volgens haar is hy gister (Donderdag 10 Julie) ontslaan.
"Ons is dankbaar dat hy veilig gevind is.
Die dokters doen steeds toetse om vas te stel wat presies gebeur het," het sy gesê. Die oorsaak van die insident is nog onbekend, maar die fokus is nou op Victor se herstel en verdere mediese ondersoeke.
Die Victor-gesin het hul opregte dank uitgespreek teenoor die gemeenskap, hulp-dienste en vriende vir hul ondersteuning, gebede en liefde tydens hierdie traumatiese tyd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’